Hoe om ‘heel’ gemaak te word

2019-02-19
Lukas 17:17 NLV

Kom ons lees hoe Jesus hierdie tien melaatse mans genees het en kyk wat ons hieruit kan leer: 1) Hulle het die oomblik aangegryp. “Hulle het hard na Hom geroep: ‘Jesus, Here, kry ons tog jammer!'” (vers 13 NLV). Desperate mense bid desperate gebede. Wie gee om oor fatsoenlikheid en uiterlike voorkoms wanneer jy besig is om dood te gaan? Hierdie mans het besef dat Jesus slegs deur die dorp op reis was (sien vers 11) en die ergste ding wat kon gebeur is dat Hy verby hulle sou loop. Dus het hulle die oomblik aangegryp en tot Hom geroep. Jy kan dit ook doen, omdat niemand jou so goed soos God kan hoor nie (sien Psalm 118:5). 2) Hulle moes dit tree vir tree neem. Hulle genesing was nie onmiddellik nie, dit was ‘n proses. ‘…Gaan wys julleself aan die priesters.’ Terwyl hulle soontoe op pad was, het hulle gesond geword’ (Lukas 17:14 NLV). Dis dikwels hoe dit werk. Dis ook nie net een tree nie, maar ‘n toewyding daaraan om deur die struikelblokke en vrese te ploeg totdat jy by jou wonderwerk uitkom. Dis egter die inspanning werd en jy sal jou verlossing meer waardeer wanneer jy dit elke dag tree vir tree moet neem deur op God te vertrou. 3) Net een uit die tien het omgedraai om dankie te sê. Dis hoekom Jesus gevra het: ‘…Waar is die ander nege?’ Was hulle te besig? Te ingedagte? Of het hulle net vergeet? Let op wat Jesus vir die een wat teruggedraai het gesê het: ‘…Jou geloof het jou gered’ (vers 19 NLV). Fisiese genesing word dikwels deur medisyne vermag, maar jy word ‘heel’ in liggaam, gedagtes en siel, deur die Here te loof en tyd saam met Hom te spandeer.

Sielskos: Gen 44-46; Luk 10:38-42; Ps 33:13-22; Spr 5:15-20