Hoe om God se vrede te ervaar
2019-10-11Filippense 4:6-7 NLV
God se vrede is wonderlik. Sommige mense rondom jou het dit vandag nodig. Jy ontvang dit wanneer jy jou lewe aan God toevertrou en volgens die beginsels wat in die Skrif weergegee word, lewe. Wanneer jy iets aan God ‘toevertrou,’ gee jy elke deel daarvan aan Hom (sien Psalm 37:5). Petrus skryf: ‘Gee al julle bekommernisse aan God oor, want Hy gee vir julle om’ (1 Petrus 5:7 NLV). Wat ‘n voorreg. Het jy onlangs daarvan gebruik gemaak? ‘Hoe gee ek al my bekommernisse aan Hom oor?’ vra jy. Deur gebed! Sodra jy bewus word dat jy jouself begin bekommer en jou sin vir vrede begin verloor, neem dit onmiddellik na God toe en los dit daar by Hom. Moenie die Duiwel kans gee om aan jou te begin werk nie. Hoe langer jy wag, hoe groter word sy houvas op jou. ‘Maar ek kan nie help om daaraan te dink nie,’ sê jy. ‘Wat kan ek doen?’ Hierdie twee dinge: 1) Gee dit oor aan God en begin op ander dinge fokus. Dis ‘n reaksie wat jy moet aanleer en een wat jy daagliks moet oefen. Paulus skryf: ‘…beplan alles wat waar, eerbaar, skoon, suiwer, lieflik en lofwaardig is… Dan sal die God wat vrede gee, by julle wees’ (Filippense 4:8-9 NLV). Met ander woorde, herlei jou gedagtes! 2) Vind uit wat God in sy Woord oor jou situasie sê. Bring dan jou gedagtes, woorde en aksies in lyn daarmee. As jy dit doen, sal jy God se vrede beleef.
Sielskos: 2 Sam 20:1-22:30; Joh 4:1-12; Ps 100; Spr 23:22-28