Hoe om die lewe se gevegte te wen (5)

2020-02-21
2 Kronieke 20:17 NLV

Vyfdens, neem jou posisie in. Jy moet vas staan tydens ‘n krisis en ‘n houding van stille vertroue inneem wat sê: ‘Ek gaan op God vertrou.’ Een pastoor skryf: ‘Dis iets wat ek stadig maar seker leer; dis nooit God se wil dat ek van ‘n moeilike situasie weghardloop nie. As ek dit doen, sal die situasie my net volg en ‘n bietjie verder langs die pad weer inhaal. Dit mag dalk nie dieselfde lyk nie, maar dit sal dieselfde wees. Hoekom? Omdat God my wil leer dat Hy vir elke situasie voldoende is. As ons dit nie vandag leer nie, mag ons dit dalk volgende week leer. As ons dit nie volgende week leer nie, sal ons dit dalk volgende jaar leer. Ons sal dit wel uiteindelik leer – liewer vroeër as later. Ons kan probleme voorkom deur posisie in te neem en in stille vertroue op God te wag.’ Waarop wag ons in vertroue? ‘Glo in die Here, en julle sal vas staan. Glo in sy profete, en julle sal suksesvol wees’ (vers 20 NLV). Eerstens moet ons vas op God se karakter staan. God is getrou en ons kan op Hom staatmaak. Tweedens, moet ons vasstaan op die geskrifte wat Hy deur sy profete aan ons gegee het – met ander woorde, die waarheid van die Bybel. Die Bybel is God se Woord en ons moet eenvoudig in stille vertroue op sy geskrewe beloftes staatmaak. Die woord vir jou vandag is dus: Neem posisie in en staan vas op die onveranderende karakter van God en die onveranderende beloftes van sy Woord.

Sielskos: Pred 5-8; Matt 16:1-12; Ps 33:13-22; Spr 5:15-20