Hoe behandel jy jou huisgesin?
2022-06-222 Samuel 23:5 NLV
Of jy nou in die kerk of by die werkplek die ‘persoon in beheer’ is, is daar ‘n belangrike vraag wat jy ernstig moet aanspreek: As jy nie vir jou eie huisgesin sorg en vir hulle lief is nie, hoekom moet die mense wat na jou vir leiding opsien dan dink dat jy vir hulle sal sorg en lief wees? Maak hierdie vraag jou ongemaklik? Laat dit jou reageer deur te sê: ‘My persoonlike lewe is niemand anders se besigheid nie’? Wel, dis waar jy verkeerd is! Jy lei deur jou voorbeeld. Die mense rondom jou mag dalk nie die vrymoedigheid hê om jou te vertel wat hulle van jou dink nie, maar dit weerhou hulle nie daarvan om dit te dink of met ander mense te bespreek nie.
Neem jy jou familie saam in jou soeke na sukses, of laat jy hulle agterweë bly? Gee jy vir hulle die tyd en aandag wat hulle verdien, of word hulle gereeld aan die einde van ‘n moeilike dag aan jou frustrasies onderwerp? Is hulle belangriker vir jou as jou loopbaan, jou sukses of jou persoonlike geluk? Hulle behoort te wees. As jy elke prys en toekenning by die werk wen, maar op die tuisfront misluk, wat het jy dan regtig bereik? Wie sal dit saam met jou vier?
Die sielkundige William James het gesê: ‘In elke persoon is daar ‘n groot behoefte om waardeer te word.’ Die vlak aanmerkings van kollegas wat jou talente en prestasies prys sal nie aan daardie behoefte voldoen nie. Dit kan net in ‘n huis waar aanvaarding, liefde en aanmoediging elke familielid met mekaar verbind, gevind word. Jou huis moet jou hawe wees – die plek waar jy skuiling teen die storms van die lewe vind. Wat doen jy om dit ‘n werklikheid te maak?
Sielskos: 2 Kon 21-23; Matt 20:17-28; Ps 139:13-24; Spr 13:25