Het jy hierdie vreugde?

2019-03-07
Hebreërs 10:20 NLV

In die Ou Testament was daar meer godsdienstige wette as wat enigiemand moontlik kon onderhou: meer as seshonderd van hulle. Elke keer wat jy daarin misluk het, moes jy ‘n offerdier as versoening bring. Dit het veroorsaak dat mense probeer en misluk het; skuldig gevoel het en harder probeer het; weer misluk het en meer opofferings gemaak het. Dit was ‘n nimmereindigende siklus. Toe het Jesus gekom en ‘n ‘nuwe, lewegewende pad… vir ons oopgemaak…’ om ‘n verhouding met God te hê. Sy pad het vergifnis van sonde sowel as die vervanging van offergawes deur geloof in Hom, ingesluit. Vir baie mense was dit te goed om waar te wees, dus het hulle aanhou werk en probeer om God met hulle goedheid te beïndruk. Doen jy dit? ‘n Christelike skrywer sê: ‘Ek het vir baie jare so gelewe. Dit beteken dat ek alles perfek moes doen; anders was ek by God in die moeilikheid. Omdat dit ‘n onmoontlike standaard was om te onderhou, het dit al my vrede en vreugde gesteel. Ek kon nie aan ander mense gee wat ek nie self geweet het hoe om te ontvang nie! Ek het nie God se genade vir my mislukkings ontvang nie, dus kon ek dit nie aan enigiemand anders bied nie. Ek het probeer om al die reëls na te kom, baie wat nie eers Skriftuurlik was nie – net dinge om oor skuldig te voel. Dank God dat ek egter nie meer so moet leef nie. Nou werk ek nie om gered te word nie, ek werk omdat ek gered is! My verlossing is nie gebaseer op dit wat ek doen nie, maar alleenlik op dit wat Jesus vir my gedoen het.’ Wanneer jy hierdie waarheid verstaan, is jou verhouding met God nie meer ‘n werk nie – dis ‘n vreugde.

Sielskos: Eks 33-35; Luk 14:25-35; Ps 112; Spr 7:6-9