God praat deur jou gedagtes

2020-02-12
1 Johannes 2:20 NLV

Het jy al ooit ‘n gesprek met iemand in jou gedagtes gevoer? Eers bespreek jy die een kant van die kwessie en dan die ander. Dink dus hieroor: As jy ‘n gesprek met jouself in jou gedagtes kan hê, dink jy nie God kan ook ‘n gesprek met jou in jou gedagtes hê nie? Die probleem is dat ons gedagtes dikwels onbetroubaar is omdat ons dit met soveel gemors besoedel; daarom twyfel ons aan sy vermoë om met ons deur ons gedagtes te praat. Sodra God jou verlos, begin Hy om jou denke te vernuwe (sien Romeine 12:2). Paulus skryf: ‘…’Wie kan verstaan wat die Here dink? Wie kan Hom raad gee?’ Óns kan hierdie dinge egter verstaan, want ons is ingestel om soos Christus te dink’ (1 Korintiërs 2:16 NLV). Wanneer God jou red, begin Hy om sy gedagtes deur jou te dink. Hy praat deur verskeie kanale – jou gedagtes is net een daarvan. Die Bybel sê: ‘Dis mos God wat julle gewillig maak om te doen waarvan Hy hou, en Hy gee julle ook die vermoë om dit te kán doen!’ (Filippense 2:13 NLV). God sal jou wil rig en in jou ‘n begeerte skep om die dinge te doen wat Hom behaag. Hy volhard ook in sy leiding. Wanneer ‘n begeerte om iets te doen aanhoudend terugkeer, mag dit dalk God wees wat jou lei. Dis hoekom dit noodsaaklik is om jou gedagtes te monitor en te beskerm. Jesus het gesê: ‘Julle is reeds skoon gesnoei deur die boodskap wat Ek met julle gedeel het’ (Johannes 15:3 NLV). Reinig jou gedagtes elke dag met God se Woord en stel jouself in om te hoor wat Hy vir jou sê.

Sielskos: Rom 1:1-3:20; Matt 13:47-58; Ps 141; Spr 4:18-19