God leer jou geduld
2022-02-03Psalm 37:7 NLV
Geduld word uit vertroue gebore. Dawid het gesê: ‘Vertrou op die Here en doen wat goed is. Woon in die land en geniet die veilige weiding. Wees bly in die Here, en Hy sal jou hartsbegeertes aan jou gee’ (verse 3-4 NLV). God het ‘n plan vir jou lewe. Dit sluit dinge in wat jy nie vandag kan kry nie, maar wat jy more sal kan geniet. Wanneer die lente aanbreek, groei die gras vanself. Hou dus op sukkel om iets nou te bereik wat maklik sal wees wanneer die tyd reg is.
Wanneer jy weier om vir ‘n kleuter iets te gee wat nie goed vir hom is nie, stamp hy sy voet en skree: ‘Ek wil dit nou hê!’ Gee jy dit dan vir hom? Nee, want hy is nog nie reg daarvoor nie. Paulus skryf: ‘Julle moet geduldig wees…’ (Kolossense 3:13 NLV). Nie net leer God jou hoe om te wag nie, maar ook hoe om ‘n goeie houding daaroor te hê.
God laat toe dat sekere dinge in die lewe gebeur om ons belangrike beginsels te leer, soos: 1) om ons geloof te behou wanneer dinge moeilik gaan, 2) om genadig onder druk te wees deur ons reaksies te beheer, en 3) om nuwe vaardighede en beter denkwyses te ontwikkel. Die waarheid is dat God tans besig is om kwaliteite in jou te ontwikkel wat nie op enige ander manier ontwikkel kan word nie. Wanneer Hy klaar is, sal jy die volwassenheid hê om dit wat Hy vir jou in gedagte het, te hanteer.
Moet dus nie toelaat dat die Vyand jou senuweeagtig maak of toelaat dat die omstandighede jou paniekerig maak nie. ‘Wees stil in die Here en wag geduldig op Hom…’
Sielskos: Rom 15-16; Luk 7:36-50; Ps 111; Spr 3:29-30