Gebruik jou geloof
2022-05-25Lukas 8:48 NLV
Die Bybel sê: ‘Daar was ‘n vrou in die skare wat twaalf jaar lank aan bloedvloeiing gely het… Sy het van agter na Jesus gekom en die soom van sy kleed aangeraak. Onmiddellik het die bloeding gestop. ‘Wie het My aangeraak?’ het Jesus gevra… ‘…want Ek het genesende krag uit My voel vloei.’ Toe die vrou besef dat Jesus weet, het sy… vertel waarom sy Hom aangeraak het en hoe sy onmiddellik gesond geword het’ (verse 43-47 NLV). Daar is drie belangrike lesse vir ons in hierdie verhaal:
1) Gryp jou oomblik aan. Hierdie vrou het verstaan dat Jesus op besoek aan haar dorp was en dalk nie sou terugkeer nie. Daar is ‘God oomblikke’ in jou lewe waar jy jou prioriteite moet herrangskik, jou vrees moet oorkom en jou geloof moet uitoefen.
2) Wees gewillig om ‘n ander benadering te volg. Aangesien sy as gevolg van die skare nie Jesus se aandag kon trek nie, het die vrou die soom van sy kleed aangeraak en is genees. Baie keer verg geloof dat jy die onbekende betree en iets doen wat jy nog nooit vantevore gedoen het nie.
3) Skep ‘n voorbeeld vir ander om te volg. Niemand het voor hierdie vrou al genesing ervaar deur Jesus se kleed aan te raak nie. Haar geloof het ‘n deur vir ander oopgemaak om haar voorbeeld te volg. ‘Toe die plaaslike mense dit hoor, het hulle… al hulle siekes na Hom toe gebring. Die siekes het Hom gesmeek om aan Hom te mag raak, al was dit maar net aan die onderste rand van sy jas. En almal wat daaraan geraak het, het gesond geword’ (Matteus 14:35-36 NLV).
God gebruik mense wat gewillig is om met tradisie te breek, om sodoende nuwe dimensies van sy krag oop te sluit sodat ander mense geseën en herstel kan word.
Sielskos: Heb 9:1-11:16; Matt 12:15-21; Ps 97; Spr 12:1-3