Fokus inwaarts in plaas van uitwaarts

2022-02-05
2 Korintiërs 4:16 NLV

Volgende keer wat jy by die winkel in die ry staan om te betaal, kyk bietjie na die tydskrifte se voorblaaie. Beeldskone gesigte, gespierde lywe – advertensies vir diëte en pille wat beloof dat jy ook so kan lyk. Daar is niks daarmee verkeerd om op jou beste te lyk en jou liggaam te versorg nie. Dit is immers die tempel van die Heilige Gees en jy is verantwoordelik om dit te versorg. Daar is egter baie meer aan jou as klere en ‘n haarstyl.

Dis ‘n fout om op die uiterlike te fokus en nie die innerlike kwaliteite wat God vir jou gegee het, te waardeer en te ontwikkel nie. Die Bybel sê: ‘…’n Mooi voorkoms hou nie vir altyd nie…’ (Spreuke 31:30 NLV). Toe God jou geskep het, het Hy nie net die buitekant versier nie; Hy het ook vir jou ‘n ‘…blywende beskeidenheid en ‘n gemoed wat kalm en rustig is [gegee]. Dit is vir God kosbaar’ (1 Petrus 3:4 NLV).

Paulus herinner ons inderwaarheid: ‘…die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare vir altyd’ (2 Korintiërs 4:18 NLV). Die waarheid is dat Paulus nie vir sy mooi voorkoms onthou word nie. Sy vyande het gesê: ‘…hy [is] maar onindrukwekkend en sy boodskap [het] maar min om die lyf’ (2 Korintiërs 10:10 NLV). Waarvoor hy egter wel onthou sal word, is hierdie woorde: ‘Ek het die goeie stryd gestry, ek het die wedloop voltooi, en ek het gelowig gebly. En nou wag die prys vir my: die lourierkrans van geregtigheid wat die Here, die regverdige Beoordelaar, my sal gee op die groot dag van sy wederkoms. En dié prys is nie net vir my nie, maar vir almal wat gretig uitsien na sy heerlike verskyning’ (2 Timoteus 4:7-8 NLV).

Die woord vir jou vandag is dus – fokus inwaarts in plaas van uitwaarts.

Sielskos: Jes 4-7; Luk 8:16-25; Ps 120; Spr 3:33-35