Doen jy dit vir die regte redes?

2022-02-21
Hebreërs 11:5 NLV

Wanneer jy met verwerping grootword, kan dit in ‘n behoefte om te isoleer en onttrek, of in ‘n dryfkrag om jouself heeltyd te bewys, manifesteer. Een man het dit so gestel: ‘Ek kan steeds my pa hoor skree dat ek nooit goed genoeg sal wees of nooit enigiets sal bereik nie. Hoe meer hy geskree het, hoe meer vasbeslote het ek geword om hom verkeerd te bewys.’

Praat die verkeerde stemme met jou? Indien dit die geval is – lees verder! Die Bybel sê dat daar van Henog getuig is dat hy God se goedkeuring weggedra het. Hoekom? ‘Omdat hy geglo het.’ God sien jou op ‘n ander manier as wat jou ouers of portuurgroep doen. Hulle aanvaarding word dikwels op jou optrede gebaseer, terwyl God se aanvaarding op jou posisie gebaseer word.

Paulus skryf: ‘God het Hom wat nie sonde geken het nie, sonde gemaak ter wille van ons sodat ons, op grond van ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan word’ (2 Korintiërs 5:21 NLV). God sien ons waar ons in die geregtigheid van Christus omvou is; dus is ons altyd aanvaarbaar.

Sodra jy besef dat jou identiteit en waarde nie aan die kar wat jy bestuur, die huis waarin jy bly en hoeveel jy verdien, gekoppel is nie, verander dit jou beweegredes. In plaas daarvan om besorg te wees oor in watter buurt jy woon, raak jy oor jou bure besorg. In plaas daarvan om te fokus op hoeveel geld jy verdien, word jou fokus om God se koninkryk te finansier. In plaas daarvan om oor jou titel by die werk besorg te wees, word jou doelwit om met uitnemendheid en integriteit op te tree. Met ander woorde, in plaas daarvan om net hard te werk, begin jy dit vir die regte redes doen.

Sielskos: Jes 53-57; Luk 10:38-42; Ps 33:13-22; Spr 5:15-20