Die regte brandstof vir jou gedagtes?
2020-01-17Romeine 12:2 NLV
Ons prestasie word deur dit wat ons verbruik, bepaal. Dis hoekom jy versigtig moet wees met wat jy jou liggaam, jou kinders, jou troeteldiere en selfs jou kar voer. Dit waarmee jy jou gedagtes voer is net so belangrik, veral wanneer jy hierdie twee lewenswette oorweeg: 1) Die wet van kognisie. Jou gedagtes beïnvloed jou emosies en jou gedrag. Jesus het gesê dat ‘n goeie boom nie slegte vrugte kan dra nie en dat ‘n slegte boom nie goeie vrugte kan produseer nie (sien Matteus 7:18). Met ander woorde, goeie denke kan nie slegte resultate produseer nie, net soos slegte gedagtes nie goeie resultate kan produseer nie. 2) Die wet van blootstelling. Die Bybel sê: ‘Moenie julle leefstyl aanpas by die gedragspatrone van hierdie wêreld nie, maar laat God julle omvorm deurdat Hy julle denkpatrone vernuwe…’ Jy sal altyd aan dit waaraan jy die meeste blootgestel word, dink. As mens kyk na die geweld, belusting en gierigheid wat deur die media uitgebeeld word, is dit g’n wonder dat misdaad en onsedelikheid hoogty vier nie. Jy kan nie net sê: ‘Ek gaan hierdie tydskrif lees, hierdie program kyk, na hierdie musiek luister, maar dit sal my nie affekteer nie.’ Sosiale wetenskaplikes bevestig wat God nog altyd sê – dit affekteer jou wel! Waar jy gaan, wat jy lees (of nie lees nie), wat jy kyk en die drome wat jy het, vorm jou gedagtes. Paulus skryf: ‘Laat die rykdom van alles wat Christus ons leer, julle leefstyl bepaal…’ (Kolossense 3:16 NLV). Wanneer jy dus die regte brandstof vir jou gedagtes nodig het, onthou: ‘[God se] boodskap kan julle geloof sterk maak en dit kan julle help om te weet dat God vir julle die dinge sal gee wat Hy belowe het om vir al die gelowiges te gee’ (Handelinge 20:32 ABA).
Sielskos: Eks 25-27; Matt 8:1-9; Ps 81; Spr 2:11-15