Die Mickey Mantle verhaal
2021-02-172 Korintiërs 5:17 NLV
Mickey Mantle is een van die ware legendes in die geskiedenis van bofbal. Hy het van 1951 tot 1968 tweeduisend vierhonderd en een wedstryde vir die New York Yankees gespeel en met ‘n rekord van agtien tuislopies in twaalf wêreldreekse, vir hom ‘n plek in bofbal se ‘Hall of Fame’ in 1974 losgeslaan. Die skare was mal oor hom. Hy was beroemd. Hy was ryk. Maar tog het hy leeg gevoel, dus het hy na alkohol gedraai.
In ‘n onderhoud met Sports Illustrated, het hy sy lang stryd met drank en sy hartverskeurende probleme met sy familie beskryf. Die onderhoudvoerder het hom gevra: ‘Hoe gaan dinge deesdae met jou, Mickey?’ Hy het geantwoord: ‘Ek het al vir agt maande nie ‘n druppel drank gedrink nie. Ek begin my lewe weer agtermekaar kry, maar ek voel dat daar iets ontbreek.’
Voel jy dieselfde vandag? Het al die dinge wat jy bereik het of verkry het jou nie bevredig nie? Mickey Mantle het uiteindelik uitgevind hoe om die gat in sy siel te vul.
Aan die einde van sy lewe het hy dít gevind waarna hy nog altyd op soek was – Jesus Christus. ‘n Ander beroemde bofbalspeler, Bobby Richardson, het hom na Christus gelei. By Mantle se begrafnis, het Richardson vertel hoe hy Mantle gehelp het om die Here Jesus as sy persoonlike Redder te aanvaar. Op sy sterfbed het Mickey Mantle gesê: ‘Ek vertrou in Christus se dood om my hemel toe te neem.’ Wat Jesus vir Mickey Mantle gedoen het, wil Hy vir jou ook doen. ‘Daarom – iemand wat één is met Christus, is ‘n nuwe skepping. Die ou dinge is verby, kyk, die nuwe is hier!’
Sielskos: Gen 1-3; Matt 15:15-28; Ps 28; Spr 5:3-6