Die leeu en die lam

2020-07-20
Efesiërs 4:2 NLV

Een dag het ‘n leeu ‘n tier in die oerwoud raakgeloop. Hy het die tier se stert gegryp en gevra: ‘Wie is die koning van die oerwoud?’ Die tier het gedwee geantwoord: ‘Jy is, o magtige leeu.’ Volgende het die leeu ‘n apie gegryp en gevra: ‘En wie sê jy is die koning van die oerwoud?’ Die apie het nederig geantwoord: ‘Jy is, o magtige leeu.’ Toe het die leeu ‘n olifant raakgeloop en gevra: ‘Wie is die koning van die oerwoud?’ Die olifant het hom met sy slurp opgetel, in die lug rondgeswaai en hom teen ‘n boom vasgegooi, waar hy bloeiend en gebroke in ‘n hopie neergeval het. Die leeu het stadig opgestaan, sy wonde gelek en vir die olifant gesê: ‘Dis nie nodig om so rof te raak net omdat jy nie die antwoord ken nie.’ Die les uit hierdie verhaal is: Hoe groter jou gesag is, hoe genadiger moet jy teenoor ander mense wees. In die Skrif word daar na Jesus as die leeu en die lam verwys; Hy is die Leeu van die stam Juda en die Lam van God. Hierin wys Hy vir ons die kern van ware krag en leierskap. Wanneer jy vir die waarheid opstaan, moet jy soos ‘n leeu brul, maar wanneer jy met mense te doen kry, moet jy so sag soos ‘n lammetjie wees. Paulus spel dit duidelik in hierdie Skrifgedeelte uit: ‘Met totale beskeidenheid en sagmoedigheid, ja, met geduld, moet julle mekaar in liefde verdra.’ Weer skryf hy: ‘Verdra mekaar en as enigeen ‘n klagte teen iemand anders het, vergewe mekaar. Vergewe mekaar soos die Here julle vergewe het’ (Kolossense 3:13 NLV).

Sielskos: Hand 8-9; Luk 8:26-39; Ps 146; Spr 16:4-5