Bid vir geestelike insig
2020-07-17Spreuke 20:5 NLV
Die mense wat Simon geken het, het geweet dat hy impulsief was en geneig was om te praat voor hy dink. Jesus het egter iets anders in hom gesien; dis hoekom Hy hom Petrus hernoem het, met die implikasie dat hy ‘n rots is wat vir ‘n fondasie geskik was. Kan jy jou die kyk op die ander dissipels se gesigte indink toe Jesus gesê het: ‘…Jy is Petrus. Op hierdie rots sal Ek my kerk oprig, en al die magte van die hel sal dit nie oorwin nie’ (Matteus 16:18 NLV)? Petrus het toe ‘n steunpilaar, ‘n gerespekteerde leier en stigter van die kerk geword, as gevolg van Christus se vermoë om verby die oppervlak te kyk en te sien wat aan die binnekant is. Ons het wonderbaarlike potensiaal omdat ons volgens God se ewebeeld gemaak is, maar soms moet ‘n ‘verstandige’ persoon dit herken en na vore bring. Te veel van ons sien net wat op die oppervlak is. Ons is dus vinning om iemand as arrogant, of humeurig, of swak te etiketteer. Wanneer jy egter geestelike insig het, kyk jy verby dit, na die hoop en vrese agter die persoon se gedrag. Ons het nie nog selfaangestelde kritici nodig nie, ons het die volgende nodig: 1) Ouers wat vir hulle kinders bid, verby hulle foute kyk en hulle uniekheid na vore bring. 2) Eggenote wat na die verborge skatte in hulle huweliksmaats soek. 3) Besigheidsleiers wat hulle werkers met respek behandel en hulle verantwoordelikhede by hulle talente laat pas. 4) Gelowiges wat onvolwasse, struikelende mede-Christene vergewe en werk om hulle te ontwikkel. 5) Gelowiges wat verlore mense deur Jesus se oë sien en weet wat sy transformerende krag kan vermag. Bid dus vir geestelike insig.
Sielskos: Hand 3:11-5:42; Luk 8:1-15; Ps 133; Spr 16:2