Behou hierdie jaar jou vreugde!

2020-01-01
Nehemia 8:10 NLV

Wanneer jy na die Hallelujakoor van Händel luister, besef jy dat hy deur God geïnspireer was. Hy het die hele Messias in net drie weke geskryf. Hy sê dat die musiek letterlik na hom in ‘n warrelwind van note gekom het. Hy het koorsig gekomponeer, asof hy deur ‘n onsigbare komponis gedryf is om pen op papier te sit. Hy het geskryf toe sy sig besig was om te verswak en toe hy voor die bedreiging van die tronk gestaan het, omdat hy ‘n berg onbetaalde rekeninge gehad het. Die meeste van ons vind dit moeilik om onder stres te skep, veral wanneer fisiese of finansiële probleme aan die kern van daardie stres lê. Tog het Händel dit gedoen. Hoe het hy dit gedoen? Hy skryf die voltooiing van sy meesterstuk aan een ding toe: vreugde. Hy word aangehaal waar hy sê dat dit gevoel het of hy wou bars van vreugde oor dit wat hy in sy gedagtes en sy hart gehoor het. In plaas daarvan om te sterf, soos hy gedink het hy sou, het hy gelewe om te sien hoe sy komposisie ‘n gekoesterde tradisie en populêre werk word. Hy het ook gesien hoe dit gebruik word om groot bedrae geld vir die armes en haweloses in te samel. Die Bybel sê: ‘…die blydskap wat die Here gee, sal julle krag wees!’ Een van die eerste dinge wat Satan sal aanval, is jou vreugde. Jesus het gesê: ‘Dit het Ek vir julle gesê sodat julle my blydskap mag ervaar en julle blydskap volkome kan wees’ (Johannes 15:11 NLV). Dit maak dus nie saak wat hierdie jaar gebeur nie, behou jou vreugde!

Sielskos: Rom 13:12-14:19; Joh 1:1-14