Al wat jy moet weet

2023-08-23
Psalm 46:11 NLV

Job se swakpunt was dat hy oormatig baie gepraat het. Mens kan hom nie daarvoor blameer nie. Nadat hy deur rampspoed getref is, het daar nie ‘n muur in sy huis staande of ‘n geliefde oorgebly nie. Sy vrou, empatiese siel wat sy was, het vir hom gesê: ‘…Vloek God en sterf!’ (Job 2:9 NLV). Toe sê sy vier vriende vir hom dat hy waarskynlik al hierdie moeilikheid oor homself gebring het.

God praat eers in hoofstuk 38 vir die eerste keer: ‘Toe het die Here Job uit die stormwind geantwoord’ (vers 1 NLV). Nadat die Here gepraat het, sê Job: ‘Ek het dwase dinge gesê. Hoe kan ek U antwoord? Ek sit my hand op my mond’ (Job 39:37 NLV). Voordat hy van God gehoor het, kon jy Job nie sover kry om stil te bly nie. Nadat hy egter van Hom gehoor het, kon hy glad nie meer praat nie. Die enigste regte ding wat Job gesê het, was: ‘Kyk, al wil Hy my ombring – ek hoop op Hom…’ (Job 13:15 AFR53).

Soms is die beste manier om jou probleem te hanteer om te vertrou, jouself te onderwerp en nie te praat nie. Job het dit nie op daardie stadium geweet nie, maar God se plan was om hom op die ou einde twee keer soveel te gee as wat hy verloor het. Dit het gebeur toe hy opgehou het om op sy eie probleme te fokus en vir sy vriende begin bid het (sien Job 42:10).

Wees dus stil. Wees ontvanklik en gewillig. God is steeds op die troon. Hy is in beheer van elke detail in jou lewe. Selfs in die ergste omstandighede het Hy jou beste belange op die hart. ‘…U steek u hand uit en red my deur u krag’ (Psalm 138:7 NLV). Dis al wat jy moet weet!

Sielskos: Rig 9:34-11:40; Mark 7:14-23; Ps 119:113-120; Spr 20:25