Verlang huis toe
2018-06-15Filippense 3:20 NLV
Elke jaar kry die Stille Oseaan-salm, wat vyf tot ses jaar in die oseaan geleef het, skielik die drang om na die water van hul geboorte-rivier terug te keer. Met vissermanne, bere en enorme hidro-elektriese damme wat in hulle pad staan, veg hulle hul weg stroom-op om by hulle tuiste uit te kom. Wetenskaplikes weet nie hoe die salm dit regkry om na die presiese rivier waar hulle gebore is, terug te keer nie. Sommige wetenskaplikes dink hulle doen dit omdat hulle die vars water van hulle rivier kan proe of ruik. Ander wetenskaplikes dink dat hulle dalk die sterre gebruik om te navigeer. Ongeag hoe hulle dit doen, weet ons dat hulle nie kaarte en kompasse gebruik nie; hulle reis is instinktief. Hulle het ‘n verlange na ‘n spesifieke rivier en hulle sal nie rus totdat hulle die rivier vind nie. Dis presies hoe dit met ons is. God het ons vir die hemel geskep en niks in ons lewe sal daardie verlange stil nie (sien Prediker 3:11). Net soos daardie salm, is ons in hierdie wêreld, maar nie van hierdie wêreld nie. Ja, ons vind vreugde daarin om die lewenstaak wat God vir ons gegee het te vervul, maar dit is niks teenoor die vreugde wat in die hemel vir ons wag nie. Paulus stel dit so: ‘Ons daarteenoor het ons burgerskap in die hemel. Van dáár verwag ons ook die Here Jesus Christus as Redder. Hy sal ons vernederde liggame verander in liggame met goddelike heerlikheid, soos sy eie. Hiervoor sal Hy dieselfde krag gebruik as dié waarmee Hy alle dinge onder sy gesag bring’ (Filippense 3:20-21 NLV). Soos jou geredde geliefdes die aarde verlaat om hemel toe te gaan, sal jou verlange om by hulle aan te sluit, net groter word.
Sielskos: Eseg 31-33; Mark 16:1-20; Ps 80:1-11; Spr 15:11-14