Beweeg van mislukking na sukses (4)
2024-02-09Psalm 126:2 NLV
Om van mislukking na sukses te beweeg, moet jy die volgende doen:
1) Leer om vir jouself te lag. Maak nie saak wat jy verloor of hoe dikwels jy verloor nie, jy moet nooit jou sin vir humor verloor nie. Wanneer jy jou foute te ernstig opneem, word alles ‘n lewe-of-dood kwessie. Die Psalmdigter het geskryf: ‘Toe die Here die bannelinge teruggebring het na Sion toe, was dit soos ‘n droom. Ons het gelag en van vreugde gesing. Die ander nasies het gesê: ‘Die Here het groot dinge vir hierdie mense gedoen.’ Die Here het groot dinge vir ons gedoen en ons is vol vreugde! Verander tog ons lot, Here, soos strome in die Suidland. Hulle wat met trane saai, sal met vreugde maai’ (verse 1-5 NLV).
Jy mag dalk nie in staat wees om oor jou foute te lag nie, maar jy kan leer om in hulle te lag. Tim Masters sê: ‘Mislukking is die produktiewe deel van sukses. Dit voorsien die pad waarlangs jy nie weer hoef te reis nie, die berg wat jy nie weer hoef uit te klim nie en die vallei wat jy nie weer hoef te deurkruis nie.’ Wanneer ons foute maak, mag dit dalk nie soos ‘Jesus se soen,’ die frase wat Moeder Teresa gebruik het vir die mislukkings wat ons na God toe dryf, voel nie. As ons egter die regte houding behou, kan dit ons lei na dit wat ons veronderstel is om te doen.
2) Leer uit jou foute uit. Die suksesvolle restaurateur Wolfgang Puck het gesê: ‘Ek het meer van die een restaurant wat nie gewerk het nie as van al die restaurante wat suksesvol was, geleer.’ Is dit nie gewoonlik hoe dit werk nie? Jy verloor nie – jy leer!
Sielskos: Num 30:1-32:24; Matt 12:22-37; Ps 125; Spr 4:3-4