Beweeg van mislukking tot sukses (2)

2024-02-07
Spreuke 6:2 DB

‘n Gesiene psigiater het opgemerk dat vier van die hartseerste woorde in die menslike woordeskat die volgende is: ‘As ek maar net…’ Hy glo dat mense wat deur hulle mislukkings vasgevang word, hulle lewens bestee deur te sê: ‘As ek maar net harder probeer het… as ek maar net my kinders beter behandel het… as ek maar net die waarheid gepraat het… as ek maar net…’

Die manier om hierdie denkwyse te verander is om jou woordeskat te verander deur ‘as ek maar net’ met ‘volgende keer’ te vervang. ‘Volgende keer sal ek harder probeer… volgende keer sal ek my kinders beter behandel… volgende keer sal ek die waarheid praat.’

Die Bybel sê: ‘…Deur jou woorde en dade word jy gevang…’ Het jy al ooit ‘n dier in ‘n strik gesien wat sukkel om hulself te bevry? Jou woorde kan dit aan jou doen. Jou woorde affekteer nie net jou nie, maar ook ander mense. Miskien dink jy ons maak ‘n te groot kwessie hiervan. As dit die geval is, lees die volgende: ‘Vriendelike woorde bring lewe, bedrieglike woorde ontstel mense’ (Spreuke 15:4 NLV). ‘Die tong het mag oor dood en oor lewe. Hulle wat lief is om te praat, moet saamleef met die gevolge van hulle woorde’ (Spreuke 18:21 NLV). Jesus het gesê: ‘Dit verseker Ek julle, julle kan vir hierdie berg sê: ‘Mag God jou oplig en in die see gooi,’ en dit sal so gebeur. Al wat nodig is, is dat julle regtig sal glo en nie in julle harte twyfel nie’ (Markus 11:23 NLV).

Wat het hierdie Skrifgedeeltes in gemeen? Hulle bevestig dat ons woorde lewe (of dood) in alles inblaas! In plaas van nederlaagspraatjies, spreek dus oorwinning oor jou situasie. In plaas daarvan om oor mislukking te praat, begin om oor sukses te praat. God sal jou woorde eer!

Sielskos: Num 25-26; Matt 12:1-14; Ps 120; Spr 3:33-35