Sê dit soos dit is
2023-01-30Efesiërs 4:15 ABA
Jon Walker sê: ‘Dis moeilik om te konfronteer, dis makliker om oppervlakkig te bly en met die eerste tekens van moeilikheid bande te verbreek en weg te hardloop. Die Bybel sê egter: ‘Eerlike antwoorde is soos ‘n soen op die mond’ (Spreuke 24:26 NLV); dit verdiep verhoudings sodat ons die waarheid met mekaar kan praat. Moenie lieg of voorgee nie. Vertel vir jou broer die waarheid. Onthou: ‘Moenie vir mekaar lieg nie. Wees eerlik met mekaar, want ons speel mos almal saam in dieselfde span van God’ (Efesiërs 4:25 DB).’
Die skrywer Anette Smith merk op: ‘Dis selfs vir nabye vriende moeilik om ongemaklike onderwerpe aan te roer. Vriende moet egter op mekaar kan staatmaak, nie net vir pret en bevestiging nie, maar ook vir onderrig en teregwysing. Wanneer ons onsself tot ‘n vriendskap verbind, beteken dit dat ons op ‘n diep intieme vlak omgee en dat ons die moed moet hê om te praat wanneer ‘n vriend moeilike woorde moet aanhoor. Ware vriendskap kom met vreugde en verantwoordelikheid. Om dit te vermy om eerlik oor ‘n situasie wat seer, gevaarlik, of buite God se wil is te praat, is om die vriendskap en die vriend oneer aan te doen. Voordat ons ‘n moeilike situasie aanspreek, moet ons egter eers selfondersoek doen en as daar enige eiegeregtigheid of die geringste begeerte om wraak te neem is, moet ons eerder stilbly. Wanneer dit by moeilike onderwerpe kom, moet dit met suiwer, liefdevolle beweegredes gepaard gaan.’
Die Bybel sê: ‘Ons moet altyd die waarheid praat en altyd lief wees vir mekaar. So word ons meer en meer soos Christus…’ As jou woorde nie met liefde deurdrenk is nie, sal dit seermaak eerder as wat dit genees.
Sielskos: Gen 13-16; Luk 6:37-49; Ps 107:10-16; Spr 3:19-20