Sleutels tot gebede wat beantwoord word (4)

2022-06-08
Hebreërs 4:16 NLV

Vrymoedigheid. Vrymoedigheid is nie arrogansie, aanmatiging of vermetelheid nie. Dis selfvertroue, gebaseer op wie jy in Christus is. Paulus skryf: ‘Kom ons gaan dan met volle vrymoedigheid na die troon van ons genadige God. Hy sal aan ons sy deernis en onverdiende goedheid bewys sodat ons op die regte tyd gehelp sal word’ (vers 16 NLV).

Jy het as verloste kind van God die reg om Hom enige tyd te nader. Wanneer jy dit verstaan, stel dit jou in staat om Satan se pogings om jou onwaardig te laat voel, te weerstaan. Dit verwyder jou natuurlike neiging om te sê: ‘Ek weet dat God dit kan doen, maar dis moeilik om te glo dat Hy dit vir my sal doen.’ Jy dink op hierdie manier wanneer jy onwaardig voel. Die heerlike waarheid is egter dat Jesus jou waardig gemaak het! (sien Kolossense 1:12).

Genade is eenvoudig onverdiende goedheid. God sal dit wat jy nie verdien nie vir jou gee, wanneer jy die vrymoedigheid het om Hom daarvoor te vra. Jy vra dit mos ook in Jesus se naam, nie jou eie nie. Jy bied aan die Vader alles wat Jesus is, nie alles wat jy is nie.

Wanneer jy egter versteekte sonde in jou hart het, kan jy nie met vrymoedigheid bid nie. Onbelyde sonde sluit jou toe en sluit God uit (sien Psalm 66:18). Die goeie nuus is egter dat wanneer jy vir God vra om jou sonde te openbaar, Hy dit sal doen. Jy moet dit dan hanteer indien jy die kommunikasielyne oop wil hou. Wanneer God jou aan ‘n situasie herinner waar jy nie die regte ding gedoen het nie, moenie dit onder die mat probeer invee nie. Erken dit, ontvang sy vergifnis en gaan dan voort om met vrymoedigheid te bid.

Sielskos: Op 1-4; Matt 15:15-28; Ps 129; Spr 12:27-28