Leer jou kind God se Woord

2017-11-10
2 Timoteus 3:15 NLV

Daar is ‘n storie oor ‘n vrou wat na haar pastoor gegaan het en gevra het, ‘Hoe vroeg moet ek met die geestelike opleiding van my kind begin?’ Die pastoor het gevra, ‘Hou oud is jou kind?’ Sy het geantwoord, ‘Vyf,’ Die pastoor het gesê, ‘Dame, jy moet aan die werk spring – jy is al vyf jaar te laat!’ Sielkundiges bevestig dat jou kind se kapasiteit en honger vir kennis reeds in hulle babajare begin. Terwyl hulle dus in die luisterstadium is, moet jy in die onderrigstadium wees. Neem elke geleentheid aan om die Bybel vir hulle voor te lees. Gebruik alledaagse ervarings om hulle te leer hoe om beleefd te wees, hoe om te vergewe en hoe om hulle sondes te bely en te berou. Moet nooit God se vermoë onderskat om ‘n geestelike karakter vanaf ‘n baie jong ouderdom by jou kinders te ontwikkel en hulle geestelike waarhede te leer nie. Stel hulle aan Jesus voor terwyl hulle harte nog jonk en teer is. Sommige van die grootste Christene in die geskiedenis is reeds teen ‘n jong ouderdom gered. Jonathan Edwards, wie se bediening New England vir God gewerf het, is teen agt jaar oud gered. Charles Spurgeon, ‘die prins van predikers’, is op die ouderdom van twaalf gered. Matthew Henry, die groot Bybelse kommentator, is op elf gered. Timoteus was vanaf sy sewentiende jaar reeds ‘n apostel. Paulus skryf, ‘Jy is van kindsbeen af onderrig in die Heilige Skrif en dit het jou wysheid gegee om die verlossing te ontvang wat deur geloof in Christus Jesus kom.’ Ja, jou kind kan die basiese waarhede oor verlossing verstaan. Hulle kan Christus ook op ‘n vroeë ouderdom leer ken.

Sielskos: Rom 1:1-3:20; Joh 8:12-30; Ps 133; Spr 29:15-18

Vergifnis en innerlike genesing

2017-10-26
Psalm 103:3 DB

Die Psalmdigter het geskryf, ‘Dit is Hy wat my vergewe as ek verkeerde dinge doen. Hy maak my gesond.’ Kyk mooi, die wete dat Hy al jou sondes vergewe, vind voorkeur bo die genesing van jou siektes. Hy vergewe al jou sondes. Sommige van ons is gemaklik daarmee om net gedeeltelike vergifnis te ontvang, omdat ons weier dat God se vergifnis sommige donker areas aanraak wat ons nie kan laat gaan nie, en waarvoor ons weier om onsself voor te vergewe. Wat daardie foute ook al mag wees, laat God toe om al jou sondes te vergewe en ontvang genesing vir al jou siektes. Laat die verlede gaan. Laat jouself toe om vry te wees en leer om jouself te vergewe deur met ‘n oop hart God se totale en volkome vergifnis te aanvaar. Hou op om jouself seer te maak, omdat Jesus vir al jou sondes seergemaak is. Hou op om jouself te straf, omdat Jesus al jou straf namens jou aan die kruis ontvang het. Dit is tyd om op te hou om jouself af te vra of jy genoeg gedoen het om God se vergifnis en aanvaarding te verdien. Jy kan dit nie verdien deur te sukkel en jou eie krag te gebruik nie; jy kan dit net deur genade ontvang. As jy vir iemand wat jy liefhet ‘n verjaarsdaggeskenk gee en hulle dring daarop aan om daarvoor te betaal, hoe sou jy voel? Seergemaak? Ontsteld? Dis hoe God voel wanneer jy sy vergifnis, genesing en regverdigheid probeer ‘verdien’. Hoe meer jy die waterval van God se genade en vergifnis elke dag oor jou laat vloei, hoe meer sal jy sy gesondheid vir jou liggaam en sy rus vir jou siel ontvang.

Sielskos: Jes 22-25; Joh 6:16-24; Ps 114; Spr 28:1-4

Trek skoon klere aan

2017-10-15
Efesiërs 4:24 NLV

Wanneer jy verkeerde denke in die privaatheid van jou gedagtes vermaak, mag jy dalk in die versoeking kom om jouself te verskoon deur te sê, ‘Watter skade kan dit doen?’ Meer skade as wat jy dink! Jy word dit waaraan jy dink. Die Bybel sê, ‘Ja, trek die nuwe mens soos skoon klere aan…’ Jy mag dit dalk nie wil erken dat jy steeds sommige van die ‘ou’ klere aanhet nie (houdings, tydsverdrywe en gewoontes), maar die waarheid is dat jy nie die skoon klere kan aantrek totdat jy die oues uitgetrek het nie. Jy kan verder ook nie die ou klere in die kas hang vir ‘n reëndag nie, of hulle op die vloer los waar jy oor hulle kan struikel nie. Jy moet van hulle ontslae raak. ‘…dat julle, wat julle vroeëre leefstyl betref, die ou, sondige mens soos vuil klere moet uittrek… Ja, trek die nuwe mens soos skoon klere aan, die mens wat na God se beeld geskape is… Daarom moet julle die leuen aflê en die waarheid teenoor mekaar praat… Moenie tot die aand toe kwaad bly, en die duiwel so ‘n houvas gee nie. Die dief moet ophou steel en eerder hard werk. Hy moet sy eie hande vir eerlike werk gebruik sodat hy iets kan hê om met mense in nood te deel. Moenie enige vuil taal gebruik nie. Gebruik eerder die regte, opbouende woorde wat nodig is om dié wat luister, te bevoordeel. Ja, moenie God se Heilige Gees hartseer maak nie… Raak saam met alle ander slegte dinge ontslae van alle bitterheid, woede, wraak, geskel en gevloek. Wees eerder vriendelik met mekaar… Vergewe mekaar soos God julle vergewe het op grond van wat Christus gedoen het’ (verse 22-32 NLV). Trek vandag jou skoon klere aan.

Sielskos: Joel 2:23-32; Hand 2:1-21

Onthou om te vergeet

2017-09-18
Markus 11:25 NLV

Dit maak nie saak hoe lief twee persone mekaar het nie, daar sal altyd konflik wees waar julle genade aan mekaar moet bewys en mekaar moet vergewe. Het jy geweet dat paartjies wat gelukkig is en getroud bly dieselfde hoeveelheid rusies en konflik het as paartjies wat ongelukkig is en skei? Dis nie die afwesigheid van konflik wat ‘n huwelik in stand hou nie, maar die vermoë om die konflik te bestuur wanneer dit voorkom. Hoe bestuur mens dus konflik? Deur die tipe selfbeheersing te beoefen wat keer dat konflik uitbrei tot rusies wat seermaak en verdeel. Dit beteken ook dat jy weet hoe om gevoelens wat jou seermaak soos woede, teleurstelling en verwagtige waaraan nie voldoen is nie, te hanteer. Met ander woorde, dit beteken dat jy weet hoe om dit te vergewe en te vergeet. Emosionele seer en spanning is egter amper onmoontlik om te vergeet; hoe harder ons probeer, hoe meer onthou ons dit. Wat is dus die antwoord? Onthou om te vergeet! Probeer om soos God op te tree, wat kies om nie dit wat Hy van ons weet, teen ons te hou nie. Hy sê in sy Woord: ‘Ek, ja, Ek alleen, is die Een wat julle sondes uitwis. Ek doen dit ter wille van Myself en dink nie weer daaraan nie’ (Jesaja 43:25 NLV). Dit beteken as jy iets teen jou eggenoot hou, daar net een oplossing is: Vergewe dit en vergeet daarvan. Jy mag dalk nooit vergeet hoe jy seergemaak is nie, maar jy kan kies om dit te vergewe en aan te beweeg. Nee, dis nie maklik nie, maar jy kan dit doen. Hoe? Deur die dinge te onthou, waarvan ander mense weet of nie weet nie, waarvoor God jou vergewe het en dieselfde genade dan aan jou eggenoot te bewys.

Sielskos: 2 Tim 1-4; Mark 13:24-37; Ps 3; Spr 24:23-25

God wil jou vry maak

2017-07-08
Spreuke 14:12 NLV

Het jy al ooit gesien hoe ‘n veearts ‘n beseerde dier hanteer? Alhoewel die veearts net geïnteresseerd daarin is om te help, verstaan die dier nie omdat hy net op sy pyn gefokus is. As gevolg daarvan, probeer die dier die einste persoon wat hom probeer help, bykom. Is dit wat tans besig is om in jou lewe te gebeur? Miskien het mense wat hulself Christene noem, jou seergemaak. Jy het nie verwag dat hulle diegene sou wees wat jou sou seermaak nie. Jy kon so seergemaak gewees het, dat jy niemand meer vertrou nie – nie eers God nie. Jy het dalk nie gesê, ‘Here, ek vertrou U nie,’ maar jou dade spreek harder as jou woorde. Jy vermy dit om sy Woord te lees om ‘n antwoord te kry. Jy bid nie en laat niemand anders toe om vir jou te bid nie. Jy beweeg van een verhouding na die volgende. Jy probeer alkohol of dwelms wat jou gemoed verander. Jy spandeer ure daaraan om televisie te kyk of op die internet rond te swerf – en party dinge waarna jy kyk skend jou gewete en laat jou slegter voel. Wat is die antwoord? 1) Draai na God toe. Gee vir Hom ‘…al julle bekommernisse… want Hy gee vir julle om’ (1 Petrus 5:7 NLV). Gee vir Hom jou pyn, jou mislukkings en jou struikelblokke. 2) Vergewe die persoon wat jou seergemaak het. Deur obsessief te wees oor wat hulle jou aangedoen het of deur wraak te probeer neem, hou jy hulle net aan jou vasgeketting. Vergifnis breek egter die ketting en maak jou vry. Deur jou eie krag mag jy dalk iets doen om jou pyn te verminder. Net God kan egter die wortel van die pyn uitroei en jou oorwinnend jou toekoms laat instap.

Sielskos: Ef 1:1-4:16; Mat 24:26-35; Ps 79; Spr 17:24-26