Krisisbestuur (2)

2021-12-12
Filippense 1:9 NLV

Wanneer jy jouself in ‘n krisis bevind, sal die regte houding die verskil tussen wanhoop en vasberadenheid maak. Dr Jeffrey Rossman stel die volgende ses stappe voor: 1) Soek maniere om betekenis in jou ervaring te vind. Veerkragtige mense gebruik hulle ervarings om ander mense te help. ‘In al ons swaarkry bemoedig Hy ons… sodat ons ook in staat sal wees om mense… by te staan met dieselfde bemoediging waarmee God ons versterk het’ (2 Korintiërs 1:4 NLV).

2) Ondersoek jou prioriteite. ‘Leer ons ons dae só gebruik dat ons wysheid kan bekom’ (Psalm 90:12 NLV). Hoe wil jy tans jou dae anders deurbring? Met wie wil jy dit die graagste deurbring? As jy net een jaar oorgehad het om te lewe, watter gesprekke sou jy wou hê? Wat se tipe mens sou jy wil wees?

3) Glo dat jy kan terugspring. ‘n Belangrike aspek van veerkragtigheid in geloof, is jou vermoë om dinge te kan hanteer. Selfs al het jy die praktiese vermoë om die kwessie te hanteer, sal jy struikel as jy nie in jou emosionele buigsaamheid glo nie.

4) Begin beweeg. Fisiese oefening verbeter jou energie en bui. Dit versterk jou vermoë om beheer van jou gesondheid en welstand te neem.

5) Klim uit jou gemaksone uit. Leer ‘n nuwe taal of rekenaarprogram; begin ‘n nuwe projek by die huis of werk. Wanneer jy die onbekende omhels, versterk dit jou selfvertroue en kapasiteit om nuwe situasies te hanteer. Hoe meer jy van jouself verwag, hoe meer veerkragtig sal jy word.

6) Verwyder die onkruid wat jou optimisme versmoor. Wanneer jy pessimistiese of siniese gedagtes begin dink, neem ‘n tree terug en wysig jou perspektief deur vir konkrete stappe om jou probleem op te los, uit te kyk.

Sielskos: Pred 11:7-12:1; Ps 39:4-13; 2 Tim 4:6-8

Hou aan volhard

2021-03-02
Hebreërs 12:1 NLV

Voor jy gebore is, het God jou aankoms voorsien en ‘n spesifieke plan vir jou gehad. Daardie plan sluit die hantering van probleme en struikelblokke wat oorkom moet word, in, omdat dit die manier is waardeur karakter ontwikkel word. Die teken van ‘n suksesvolle persoon is sy of haar vermoë om probleme as geleenthede, in plaas van struikelblokke, te sien. Die belangrikste lesse vind nie plaas wanneer jy die goeie tye vier nie, maar wanneer jy gedurende die slegte tye volhard. Dis inderdaad hoekom die slegte tye die goeie tye so goed maak!

As jy enigiets van die geboorte van kameelperde af weet, sal jy weet dat die eerste dele wat verskyn, die voorste hoewe en die kop is. Dan kom die hele kalf te voorskyn, tuimel grond toe en beland op sy rug. Binne sekondes rol die baba om en staan op en sukkel om daardie lang, nuwe bene te kry om te beweeg. Dan gebeur ‘n wonderbaarlike ding. Die ma kameelperd posisioneer haarself direk bokant haar nuwe kalfie, kyk of hy ongedeerd is en skop hom weer om. As hy nie weer opstaan nie – skop sy hom weer. Wanneer die kalfie moeg is, skop sy hom weer om hom te stimuleer om weer op te staan. Elke keer wat die baba op sy voete kom, skop die ma hom weer om. Haar aksies mag dalk vir ons wreed lyk, maar sy is besig om haar kind vir oorlewing voor te berei. Tensy die klein kalfie leer om vinnig op te staan en saam met die trop te hardloop wanneer daar gevaar is, sal hy nie oorleef nie.

Wat is die les hier uit te leer? Wanneer die lewe jou onderstebo skop – staan weer op (sien Spreuke 24:16). Gedurende moeilike tye leer jy, deur pure vasberadenheid en deursettingsvermoë, die grootste lewenslesse.

Sielskos: Gen 32-34; Matt 20:1-16; Ps 70; Spr 6:26-28

Herken jou gawes, ken jou doelwit

2019-05-21
1 Samuel 12:21 NLV

Om sukses in die lewe te behaal in dit wat God jou geroep het om te doen, moet jy jou gawes herken en jou doelwit ken. Wanneer jy duidelikheid oor hierdie twee dinge het en jouself daaraan verbind, moet jy twee eienskappe demonstreer: dissipline en vasberadenheid. Fritz Kreisler, een van die grootste violiste van alle tye, het dissipline en vasberadenheid gehad. Skares het Carnegie Hall in New York volgepak om na hom te luister. Die pad na sukses was egter vol stampe en stote. As kind wou hy vreeslik graag viool gespeel het, dus het sy ouers betaal om hom te laat lesse neem. Hy het egter nie so vinnig vordering gemaak soos hulle gehoop het nie en na ‘n paar jaar het hy sy lesse gestaak. Gedurende die volgende paar jare, deur universiteit en vroeë volwassenheid, het hy medies gestudeer, maar versuim om sy mediese graad te behaal. Hy het by die weermag aangesluit, maar geen bevordering behaal nie. Hy het verskeie loopbane nagejaag, almal sonder sukes. Uiteindelik het hy besef dat die een stukkie sukses wat hy in die lewe behaal het, met die viool te doen gehad het. Hy het na sy instruktrise teruggekeer en gesê: ‘Ek wil speel.’ Sy het gesê: ‘Goed, ek sal jou weer as student inneem, maar net as jy die onvervangbare kwaliteit wat nodig is om ‘n groot violis te word, bekom. Jy moet onoorwinbare vasberadenheid toon.’ Hier is weereens jou stappe na sukses: 1) Herken jou gawes. 2) Ken jou doelwit. 3) Wy jou aan die proses toe, maak nie saak hoe lank dit vat nie. 4) Vertrou op God om jou pogings te seën.

Sielskos: 1 Kon 10-11; Mark 8:27-38; Ps 45; Spr 12:7-9

Verander jou denke

2017-10-12
Filippense 4:8 NLV

Om jou lewe te verander, moet jy eers jou denke verander. Dis nie maklik as jy jou hele lewe lank al op ‘n sekere manier dink nie. Die dominee en skrywer, dr Frank Crane, het gesê, ‘Ons gedagtes is ons beste vriende en ons grootste vyande.’ Koning Salomo het dit so gestel: ‘Want soos [die mens] in sy siel bereken, so is hy…’ (Spreuke 23:7 AFR53). Om jou denke te verander, moet jy dit doen – een gedagte op ‘n slag. Dit benodig dissipline en vasberadenheid. Dis egter die moeite werd. As jy ‘n marathon wil hardloop, sal jy mos nie heeldag lekkers eet nie? Die brandstof wat jy insit bepaal die prestasie. Tog verontagsaam ons hierdie basiese stukkie wysheid: Wat jy jou liggaam voer is niks in vergelyking met wat jy jou gedagtes voer nie! Hier is ‘n waarheid wat jou sal transformeer: Dink uitstekende gedagtes! Wat jou gedagtes aanhoudend binnedring, besit hulle, vorm hulle, beheer hulle en druk hulle op die ou einde uit in dit wat jy word en wie jy is. Jou gedagtes sal dit waaraan jy blootgestel word, absorbeer en reflekteer. Die geleenthede wat jy bywoon, die verhoudings wat jy bou, die boeke wat jy lees, die musiek waarna jy luister, die mediaboodskappe waaraan jy blootgestel word, die gesprekke waaraan jy deelneem en die gedagtes wat jy het vorm jou denke en uiteindelik jou karakter en jou lotsbestemming. Wat moet jy dus doen? Begin elke dag deur te bid: ‘Here, ek wil die tipe gedagtes hê wat u Woord beskryf. Denke wat gevul word deur alles wat waar, eerbaar, skoon, suiwer, lieflik en lofwaardig is’ (sien Filippense 4:8). Kan jy jou indink hoe jou lewe sal wees as jy aanhoudend so bid en jou denke ooreenstemmend programmeer?

Sielskos: Eks 22-24; Joh 2:12-25; Ps 89:15-37; Spr 26:20-22