2025-11-04
Jakobus 2:22 NLV
As jy regtig God se Woord rakende jou situasie glo, hoe sal jy anders optree? Om te sê jy glo is net die begin; om jou geloof te aktiveer beteken dat jy jou vir die antwoord moet begin voorberei. Vra jouself: ‘As ek regtig ‘n antwoord op my gebede verwag, hoe sal ek daarop voorberei?’
Jesus het in die Skrif die volgende gelykenis vir sy dissipels gegee: ‘…God se koningsheerskappy is soos ‘n mosterdsaad wat iemand in sy tuin geplant het… Dit word so ‘n groot boom…’ (Matteus 13:31-32 NLV). Die boer kan opreg glo dat hy ‘n mosterdboom kan laat groei, maar niks sal gebeur voor hy nie die plek kies, die grond voorberei, die saad plant en dit voortdurend natmaak nie. Sodra hy al daardie dinge doen, kan hy aktief begin uitkyk of die boom begin opkom. Waar moet mens dus begin?
1) Bid vir wysheid om die regte besluite te neem (sien Jakobus 1:5-7).
2) Beplan jou werk en werk volgens jou plan. Doellose, passiewe verwagting vir iets om te realiseer sonder deurdagte, aktiewe betrokkenheid, sal teleurstellend en vrugteloos wees. God gebruik jou as sy vennoot. ‘Ons is Gód se werkspan…’ (1 Korintiërs 3:9 NLV).
3) Breek jou plan in klein, uitvoerbare stappe op.
4) Moenie wag vir die vrees om weg te gaan of vir die geloof om te groei nie. Wees voorbereid om berekende, produktiewe risiko’s te neem. Voel die vrees en doen dit in elk geval!
5) Begin om God te dank, nog voor jy die antwoord kan sien. ‘…[Abraham se] geloof het dus eers volwassenheid bereik toe dit dade geword het.’ Dis nog steeds die Bybel se formule vir sukses.
Sielskos: 1 Kro 10:1-12:22; Joh 8:42-59; Ps 49; Spr 25:18-20
2025-11-03
Jakobus 2:17 NLV
Jakobus vra: ‘…wat help dit as ‘n mens sê jy het geloof, maar jou lewe wys dit nie?.. Sê nou jy sien ‘n Christenbroer of suster wat kos en klere nodig het, en jy sê: ‘Ek hoop dit gaan goed met jou; sorg dat jy warm aantrek en genoeg eet,’ maar jy gee nie vir daardie persoon kos of klere nie. Wat help dit dan? Dis duidelik: Om net te sê jy glo, is nie genoeg nie. Geloof wat nie dade word nie, is eintlik glad nie geloof nie – sulke geloof is dood en help niks. Maar iemand sou kon redeneer: ‘Party mense het geloof, en ander het dade.’ Ek sê: ‘Jou geloof bly onsigbaar as dit nie dade word nie. Juis uit my dade sal ek jou my geloof wys’ (verse 14-18 NLV).
‘n Greintjie geloof wat met dade gevolg word, kan ‘n see van resultate oplewer (sien Matteus 13:31-32). Die Bybelse voorskrif vir geloof is eenvoudig maar kragtig.
1) Jy besluit om God se beloftes en sy krag om dit te laat gebeur, te glo – en laat die ‘hoe en wanneer’ aan Hom oor.
2) Jy kies om in ooreenstemming met dit wat jy glo op te tree, voor jy enige bewyse van resultate sien.
3) God reageer op jou geloof deur sy onbreekbare beloftes na te kom.
‘…Het Hy al ooit iets gesê wat Hy nie gedoen het nie? Het Hy iets belowe wat Hy nie nagekom het nie?’ (Numeri 23:19 NLV). God oefen altyd sy onbeperkte vermoë om sy Woord uit te voer, uit. Jesus het gesê: ‘…alles wat julle in die gebed vra, sal julle ontvang, mits julle God daarmee vertrou’ (Markus 11:24 NLV). Dis nou jou verantwoordelikheid om sy beloftes aan te neem en daarvolgens op te tree.
Sielskos: 1 Kro 7:20-9:44; Joh 8:31-41; Ps 30; Spr 25:13-17
2025-11-02
Romeine 12:3 NLV
Dank God dat geloof nie net vir diep geestelike mense bedoel is nie. As dit die geval is, sou ons almal in die moeilikheid wees! Ons is geneig om te dink dat geloof eksklusief aan mense soos Abraham, Moses, Elia, Samuel, Dawid, Daniël, Petrus en Paulus behoort. Hulle was inderdaad almal helde van geloof, maar geloof behoort nie alleenlik aan hulle nie. Die Bybel sê dat God geestelike toerusting aan ons almal gegee het. Niemand sal die hemel misloop omdat hy of sy nie genoeg geloof ontvang het om in die Here Jesus te glo en gered te word nie (sien Handelinge 16:31).
God het nie bedoel dat ons net geloof sal hê nie, maar dat ons deur geloof sal lewe. Drie keer verseker die Nuwe Testament ons dat: ‘Dié mense wat my wil doen, sal uit die geloof lewe…’ (Hebreërs 10:38 NLV). Jy antwoord: ‘Ja, maar daardie Bybelse helde van geloof se geloof was groot; my geloof is so klein!’ Het jy geweet dat die apostels ook so gevoel het? Hulle het vir Jesus gesê: ‘…Help ons. Ons het meer geloof nodig’ (Lukas 17:5 NLV). Jesus het geantwoord: ‘…Al sou julle maar net ‘n geloof só klein soos ‘n mosterdsaadjie gehad het, sou julle aan hierdie moerbeiboom gesê het: ‘Ontwortel jouself en gaan verplant jou in die see,’ – hy sou julle gehoorsaam!’ (vers 6 NLV).
Soos so baie van ons, het die apostels gedink dat hulle meer geloof nodig het. Jesus het hierdie geestelik verlammende wanpersepsie egter reggestel deur vir hulle te sê dat jy het nie ‘n trok vol geloof nodig het om wonderlike resultate te sien nie. ‘Geloof so klein soos ‘n mosterdsaadjie’ kan wonderlike resultate teweegbring. Wanneer jy die geloof wat jy reeds gegee het in aksie omskep, sê Jesus dat dit resultate sal lewer!
Sielskos: Gen 5:22-24; Heb 11:5; 2 Kon 2:1-12; Hand 1:9-11
2025-11-01
Hebreërs 11:1 NLV
Geloof het min met godsdiens of die kerk wat jy bywoon, te doen. Die Griekse definisie van die woord ‘geloof’ is pistis, wat ‘n vaste oortuiging, ‘n oortuiging wat op hoor en leer gebaseer is, beteken. Ander woorde wat ons help om geloof te definieer is vertroue, vrymoedigheid en om te glo.
Hier is ‘n paar Skriftuurlike beskrywings van geloof: ‘Wat is geloof dan? Dit is ‘n vaste versekering dat die dinge waarna ons uitsien, inderdaad sal gebeur. Dit is die bewys dat God die dinge wat ons nog nie kan sien nie, waar sal maak.’ Die Bybel sê vir ons: ‘As jy nie glo nie, is dit onmoontlik om God tevrede te stel. Wie tot God wil nader, moet glo dat Hy werklik dáár is en dat Hy dié wat na Hom soek, daadwerklik beloon’ (vers 6 NLV). Dit sê ook vir ons: ‘Die geloof volg uit die aanhoor van die boodskap. En die aanhoor van die boodskap volg uit die prediking van die Goeie Nuus wat handel oor Christus’ (Romeine 10:17 NLV). Jakobus skryf: ‘…Geloof wat nie dade word nie… sulke geloof is dood en help niks’ (Jakobus 2:17 NLV).
Geloof, alhoewel dit gevoel kan word, is glad nie ‘n gevoel nie. Jy kan geloof hê en niks voel nie. Dit hou ook nie met intellektuele of teologiese kennis verband nie. Jou IK of vlak van opvoeding het niks met jou kapasiteit om geloof uit te oefen, te maak nie. Effektiewe geloof verg ‘n daad van jou wil. Dis ‘n keuse wat jy maak om dit wat God in sy Woord sê, ten volle te omhels. Wanneer dit gebeur, skep dit ‘n klimaat in jou hart wat jou motiveer om in ooreenstemming met dit wat jy kies om te glo, op te tree. Dis geloof!
Sielskos: 1 Kro 17:1-20; Heb 11:4-12:3; Ps 18:20-29; Spr 4:18
2025-05-23
Lukas 6:45 NLV
Dink jy aan jouself as iemand wat geloof in God het? Reflekteer jou gedagtes en woorde dit? Ons kan onsself mislei deur te dink dat ons groot geloof het, maar wanneer uitdagings ons maklik verslaan, is ons geloof dalk nie so groot soos wat ons dink nie. Jesus het gesê: ‘…Wat ook al in jou hart leef, bepaal wat jy sê.’ Jy kan baie van jouself leer deur te luister na dit wat jy sê. Wys jou gedagtes en woorde jou afhanklikheid van God; dat sy vermoë, nie joune nie, jou in staat stel om te doen wat nodig is?
Om jou woorde reg te kry, moet jy jou hart regkry. Om dit te doen, moet jy jou gedagtes in lyn met God se Woord bring. Dit beteken dat jy gewillig moet wees om enigiets wat Hy jou wil wys in die gesig te staar en Hom te vra om jou te verander. As jy op jou eie krag vertrou, begin eerder om op God te vertrou. As jy probeer om dinge deur jou eie vermoë aan te pak en geïrriteerd raak, vra God dat Hy deur jou moet werk en sy bekwaamheid moet toelaat om joune te wees. Paulus skryf: ‘Nie dat ons op eie houtjie iets kan bedink asof dit ons eie breinkind is nie. Ons bekwaamheid kom van God’ (2 Korintiërs 3:5 NLV).
Jou woorde dra krag, moet dus nie laat hulle jou belemmer nie. Staan eerder op die volgende Skrifgedeelte: ‘En God is in staat om aan julle elke gawe in oorvloed te gee sodat julle in elke opsig altyd van alles genoeg kan hê én ook nog oorvloedig kan wees in elke goeie werk’ (2 Korintiërs 9:8 NLV). Wanneer jy praat, stem altyd met God se Woord ooreen.
Sielskos: 1 Kon 16:1-18:15; Mark 9:30-37; Ps 108; Spr 12:14