Leer God volgende jaar ken

2023-12-31
Jeremia 9:24 NLV

God sê: ‘…Mense met insig moenie spog met hulle kennis nie. Sterk mense moenie grootpraat oor hulle krag nie. Ryk mense moenie roem in hulle rykdom nie. Laat hulle wat wil spog, dit doen omdat hulle My ken, en begryp…’ (verse 23-24 NLV). Die waarheid is dat as jy God nie ken nie, maak dit nie saak hoeveel geld in jou rekening is, watter diplomas op jou muur hang of watter posisie jy in die maatskappy beklee nie. Totdat jy ‘n verhouding met God het, het jy nog nie waarlik begin lewe nie!

‘n Deel daarvan om Hom te leer ken, is om die waarheid oor jouself te leer. Nadat hy gesien het hoe Christus ‘n wonderwerk doen, het Petrus erken: ‘…ek is ‘n te groot sondaar…’ (Lukas 5:8 NLV). Toe die profeet Jesaja die Here op sy troon gesien het, het hy uitgeroep: ‘…Ellende het my getref!…’ (Jesaja 6:5 NLV).

God vertel jou egter nie die waarheid oor jouself en los jou dan net so nie. Nee, soos ‘n goeie dokter sê Hy vir jou jy is siek, sodat jy die regte behandeling kan ontvang. Die regte behandeling vir sonde is verlossing deur die bloed van Jesus. Jy sal nooit God ken totdat jy met Hom deur Jesus Christus verbind is nie.

As jy Hom dus nog nooit as jou Redder aanvaar het nie, begin die nuwe jaar deur te bid: ‘Here, ek bely en draai weg van my sonde af. Ek plaas my lewe in u hande en vertrou U as my Here en Redder. Deur geloof ontvang ek die gawe van ewige lewe. Ek vra U om my van vandag af te lei en te rig en u wil deur my te vervul. In Jesus se Naam bid ek dit: Amen’ Voorspoed vir die nuwe jaar!

Sielskos: Fil 3:8-14; 2 Kor 5:14-21; Ps 77:11-20; Spr 9:10-12