Die argument vir God (3)

2022-01-11
Romeine 1:20 NLV

‘n Ou gesegde lui: ‘Daar is geeneen so blind as die een wat nie wil sien nie!’ Richard Dawkins, die bekende ateïs, het gesê: ‘Dit is heeltemal veilig om te sê dat, indien jy iemand ontmoet wat nie in ewolusie glo nie, dat daardie persoon onkundig, dom of waansinnig is.’ Die waarheid is egter dat die grootste wetenskaplike denkers in die verlede – briljante mense wat sleuteldissiplines van die wetenskap gevestig en ontwikkel het – geglo het dat God die aarde geskep het. Byvoorbeeld: 1) Fisika: Newton, Faraday, Maxwell, Kelvin. 2) Chemie: Boyle, Dalton, Pascal, Ramsay. 3) Biologie: Ray, Pasteur, Mendel, Linnaeus. 4) Geologie: Steno, Woodward, Brewster, Agassiz. 5) Sterrekunde: Kepler, Galileo, Herschel, Maunder.

Was hierdie mense ‘onkundig, dom of waansinnig’? Sir Isaac Newton het daarin geslaag om die samestelling van lig te ontdek, die wette van beweging af te lei, calculus uit te vind, die spoed van klank te bereken en universele swaartekrag te definieer – terwyl hy geglo het dat ons heelal ‘slegs uit die raad en heerskappy van ‘n intelligente en kragtige Wese, kon voortkom.’ In ‘n 2007 Newsweek opname, het 78 persent van die deelnemers die skepping aan God toegeskryf, terwyl net 13 persent in ‘n naturalistiese ewolusie geglo het. Moenie deur ongelowiges geïntimideer word nie. Wees ferm!

Die Bybel sê: ‘In hulle harte het hulle immers ‘n duidelike besef van God, want God het dit aan hulle bekend gemaak. Want al is God onsigbaar, kan hulle sy ewige krag en sy Goddelikheid reeds van die skepping van die wêreld af duidelik uit sy handewerk waarneem. Daarom kan hulle hulleself hoegenaamd nie verontskuldig nie’ (verse 19-20 NLV). Ja, daar is ‘n God – en Hy wil hê dat jy Hom op ‘n persoonlike vlak leer ken.

Sielskos: Gen 24:1-25:18; Luk 2:8-20; Ps 71:1-16; Spr 2:1-2