Dis nooit te laat vir God nie

2020-06-29
Jesaja 57:18 NLV

‘Is dit te laat vir God om iets met my te doen?’ vra jy. Dis nooit te laat vir God nie! Ons lees in die Skrif van gebroke mense wat God op wonderlike manier opgehef het. Hy het Moses, ‘n moordenaar, gebruik om die Hebreeuse slawe te red. Hy het Jacob, ‘n leuenaar en ‘n verkuller, gebruik om sy belofte aan Abraham te vervul. Hy het selfs vir Ragab, ‘n prostituut, in die Messias se familieboom ingesluit. As God hulle verlos het, kan Hy jou ook verlos. Gebrokenheid moet jou nooit vasgevang hou nie. Nee, dit moet jou eerder in ‘n lewe van vryheid loslaat. ‘n Waarlik gebroke mens kan die realiteit van Johannes 15:5 verstaan, waar Jesus gesê het: ‘…sonder My kan julle niks doen nie’ (NLV). ‘n Gebroke persoon wat geleer het om op God staat te maak, is ‘n krag om mee rekening te hou. Wanneer jy na ‘n verlede wat met mislukkings besaai is kyk, is dit moeilik om ‘n blink toekoms te sien, net soos dit moeilik is om te bestuur wanneer jy in die truspieëltjie kyk. Jy moet van tyd tot tyd in jou truspieëltjie kyk, maar wanneer jy slegs daarop fokus sal jy jouself en ander mense seermaak. Dis hoekom die voorruit soveel groter as die truspieëltjie is – dit wys jou waarheen jy op pad is in plaas van waar jy was! Wanneer jy na God toe draai, sal Hy jou vergewe, jou herstel en jou vir sy doelwitte gebruik. Hy het gesê: ‘Ek het gesien wat hy doen, maar sal hom gesond maak! Ek sal hom begelei en hom herstel en vertroos. Ek sal sorg dat roubeklaers My weer loof…’ (Jesaja 57:18-19 NLV). Die woord vir jou vandag is dus – dis nooit te laat vir God nie!

Sielskos: Jer 7-9; Luk 3:11-20; Ps 64; Spr 14:25-28