Draai na God – Hy sal jou nie teleurstel nie

2020-06-22
Psalm 118:5 NLV

Teen die ouderdom van ses-en-twintig, het Thomas ‘n uitgewersmaatskappy begin en die Nasionale Konvensie van Gospelkore in Amerika gestig. Hy het met van die grootste sangers in die geskiedenis van gospelmusiek gewerk, insluitend Mahalia Jackson. Een aand, nadat hy vir ‘n gehoor in Saint Louis gesing het, het hy egter ‘n telegram ontvang wat gelees het: ‘Jou vrou is pas oorlede.’ Sy het tydens geboorte gesterf. Thomas het huis toe gejaag, waar sy pasgebore seun die volgende dag oorlede is. Hy het in ‘n depressie verval, mense vermy en kwaad vir God geword. ‘Ek het gevoel dat God my ‘n onreg aangedoen het. Ek wou Hom nie meer dien of gospelliedjies skryf nie.’ Toe het ‘n vriend hom na ‘n musiekskool in die buurt geneem. Daardie aand het Thomas by die klavier gaan sit en begin speel… en bid. Hy het sy hart voor die Here uitgestort; en hoe wonderlik was sy woorde nie: ‘Precious Lord, take my hand, lead me on, let me stand, I am tired, I am weak, I am worn; through the storm, through the night, lead me on to the light: Take my hand, precious Lord, lead me home.’ Thomas A. Dorsey het getuig dat die Here hom daardie aand terwyl hy voor die klavier gesit het, weer heel gemaak het. Hy het aangegaan om meer as ‘n duisend liedjies te skryf en een van die invloedrykste Christelike liedjieskrywers van alle tye geword, omdat hy na God om hulp uitgereik het. Die Psalmdigter het dit ook gedoen: ‘In my nood het ek tot die Here gebid. Die Here het my geantwoord…’ Die woord vir jou vandag is dus: Draai na God toe; Hy sal jou nie teleurstel nie.

Sielskos: 2 Kon 24-25; Luk 2:1-7; Ps 144:9-15; Spr 14:5-8