Bid met vrymoedigheid

2020-06-21
1 Johannes 5:14 NLV

Soms bid ons ‘Net’ gebede. Ons sê: ‘Here, ons vra net dat U ons sal beskerm, of vir ons sal voorsien… As U ons net uit hierdie situasie sal help, sal ons so dankbaar wees.’ Dis asof ons sê: ‘Here, ek wil U nie hiermee pla nie, maar…’ Dit klink nederig, maar in realiteit demonstreer dit ‘n gebrek aan geloof en vrymoedigheid om God te nader. Dis ook nie skriftuurlik nie. Die Bybel sê: ‘Kom ons gaan dan met volle vrymoedigheid na die troon van ons genadige God. Hy sal aan ons sy deernis en onverdiende goedheid bewys sodat ons op die regte tyd gehelp sal word’ (Hebreërs 4:16 NLV). ‘Geliefdes, as ons gewete ons nie veroordeel nie, het ons vrymoedigheid om na God te gaan. Wat ons ook al bid, kry ons van Hom omdat ons sy opdragte gehoorsaam en dié dinge in sy teenwoordigheid doen wat Hom bly maak’ (1 Johannes 3:21-22 NLV). ‘Dit is die vrymoedigheid wat ons voor God het, dat wat ons ook al volgens sy wil vra, Hy na ons luister. As ons dan met die wete leef dat Hy na ons luister, na wat ons ook al vra, weet ons ook dat Hy die versoek wat ons gevra het, sal toestaan’ (1 Johannes 5:14-15 NLV). ‘Hy moet geprys word – Hy wat mag het om deur die krag wat in ons werk, oneindig meer te doen as wat ons vra of dink om te vra’ (Efesiërs 3:20 NLV). As sondige mense soos julle dan goed weet om goeie dinge aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal julle hemelse Vader goeie dinge gee aan hulle wat dit van Hom vra!’ (Matteus 7:11 NLV). Jy kan as verloste kind van God jou liefdevolle hemelse Vader met vrymoedigheid nader, in die wete dat Hy dit wat jy nodig het – en soveel meer! – sal voorsien.

Sielskos: Hand 4:8-12; Hand 16:22-34; Matt 1:18-21