Leer op die harde manier (1)

2020-06-17
Hebreërs 11:32 NLV

Simson het wonderlike potensiaal gehad, maar dit alles weggegooi. Hoekom? Om verskeie redes. Hy het nie sy drange beheer nie. Hy was fisies sterk, maar moreel swak. Hy het God se beginsels opsetlik geïgnoreer en sy lewe het ‘n patetiese siklus van mislukkings geword. Hy het nooit uit sy foute geleer nie; hy het dieselfde foute oor en oor gemaak. Dit was vir hom ‘n speletjie: ‘Hoe naby kan ek aan die vuur kom sonder om te brand?’ Delila, ‘n Filistynse prostituut, het hom aanhoudend oor die bron van sy krag gepols en elke keer het sy bietjie nader aan die waarheid gekom. Simson het met versoeking gespeel deur haar aan ‘n lyntjie te hou en uiteindelik het hy gebrand. Ons doen dieselfde wanneer ons dinge sê soos: ‘Dit kan nie seermaak nie… net hierdie een keer.’ Die waarheid is dat niemand van ons beplan om ‘n mislukking te wees nie. Dit kom natuurlik – en geleidelik. Dis ‘n stap-vir-stap proses, wat ons bietjie-vir-bietjie verswak. Ons lewens val nie in een dag uitmekaar uit nie. Probleme bou oor ‘n tydperk op, omdat ons weier om uit ons foute te leer. Miskien dink jy: ‘Maar hierdie is ‘n area van my lewe waaroor ek geen beheer het nie. Dis maar net hoe ek is.’ Dis die verkeerde antwoord. Hier is die regte een: ‘Hy gee krag aan dié wat moeg is. Hy maak die magteloses sterk’ (Jesaja 40:29 NLV). Toe Simson uiteindelik die waarheid oor sy situasie aanvaar het, het God sy siklus van mislukking verbreek en hom die krag gegee om te doen wat hy moet doen – en hy het oorwinning behaal. God sal dieselfde vir jou doen wanneer jy na Hom toe draai!

Sielskos: 2 Kon 13-15; Luk 1:26-38; Ps 139:1-6; Spr 13:21-23