Moenie omkyk nie
2020-06-10Genesis 19:26 NLV
Voor Sodom en Gomorra vernietig is, het engele van die Here vir Lot en sy familie gered. ‘Buite die stad waarsku die engele: ‘Vlug vir julle lewe! Moet nêrens in die vlakte stilstaan nie! En moenie omkyk nie! Vlug na die berge, anders sal julle doodgaan’ (vers 17 NLV). Lot se vrou het egter omgekyk ‘en in ‘n soutpilaar verander.’ Daar is ‘n belangrike les vir elkeen van ons hieruit te leer: Weerstaan die versoeking om in die dryfsand van die foute van die verlede te talm – jou eie of ander mense s’n. Dit kan moeilik wees om vorentoe te kyk wanneer daar afgryslike goed met jou in die verlede gebeur het. Wanneer jy egter in die verlede vasgevang word, mis jy die goeie dinge wat God in die hede vir jou beplan. Die goeie nuus is dat dit nooit te laat is om God toe te laat om jou te gebruik en jou vorentoe in jou lewensreis te beweeg nie. Hy kan die wonde wat ander mense op jou gelaat het, weer heel maak. Hy kan jou wyser as gevolg van slegte besluite wat jy in die verlede geneem het, maak. Dis nie te laat om te word wat jy kon gewees het nie. God verlustig Hom daarin om ons swakhede in sterkpunte te omskep. Hy kan skatte uit dit wat jy as gemors weggegooi het, omskep. As jy van die pad wat Hy wil hê jy moet volg, weggedraai het, is dit nou die tyd om na sy hoofweg toe terug te keer. “‘Ek weet wat Ek vir julle beplan het,’ sê die Here. ‘Ek beplan voorspoed vir julle, nie teëspoed nie. Ek wil hê dat julle hoop vir die toekoms moet hê'” (Jeremia 29:11 NLV). Beweeg dus vorentoe – en moenie omkyk nie.
Sielskos: Op 15-18; Mark 15:1-20; Ps 132:11-18; Spr 13:7-8