Vergewe hulle en bevry jouself
2020-04-26Markus 11:25 NLV
Wanneer iemand ons seermaak, is ons natuurlike reaksie om hulle óf terug seer te maak, óf om te hoop dat hulle sal ly vir dit wat hulle ons aangedoen het. As verloste kinders van God is dit egter die verkeerde reaksie. Dis dan wanneer ons besef dat vergifnis nie maklik of natuurlik kom nie; dit verg bonatuurlike genade van ons kant af. Waar kry ons dit? Deur gebed! Jesus het gesê: ‘Maar wanneer julle besig is om te bid, vergewe eers enigeen teenoor wie julle ‘n grief het. Dan sal julle hemelse Vader ook julle oortredings vergewe.’ Wanneer jy God se genade teenoor jou onthou, het jy geen keuse as om dieselfde genade aan die persoon wat jou seergemaak het, te bewys nie. Iemand het een keer gesê: ‘Vergifnis is ‘n besluit om ‘n gevangene vry te laat en dan agter te kom dat die gevangene jy is.’ As jy dus die begeerte het om iemand te vergewe, raak opgewonde; die Heilige Gees het alreeds die helfte van die werk gedoen. Om die ander helfte te doen, moet jy nederig word en bid: ‘Vader, ek staan elke begeerte wat ek het om wraak te neem, teë. U het die situasie gesien voor dit gebeur het en in u oneindige wysheid het U toegelaat dat dit gebeur. U Woord sê dat U ‘…alles ten goede laat saamwerk vir hulle wat [U] liefhet…’ (Romeine 8:28 NLV), dus, met die hulp van die Heilige Gees, vergewe ek hulle van hierdie oomblik af vorentoe. Ek sal nie oor die situasie tob nie, maar eerder u Woord daaroor spreek.’ Dit word ‘n ‘gebed van bevryding’ genoem. Jy bevry nie net jou oortreder nie; jy bevry en herposisioneer ook jouself om in God se seën te stap. Dis hoekom jy hulle moet vergewe!
Sielskos: Matt 5:8; Ps 24:3-6; 2 Pet 3:3-14; Ps 51:10