Maak volkome op God staat

2020-02-25
2 Korintiërs 3:5-6 NLV

Jesus het vir sy dissipels gesê: ‘Wees waaksaam en bid. Anders sal die versoeking vir julle te sterk word. ‘n Mens se gees is wel gewillig, maar jou liggaam hou nie altyd by nie’ (Matteus 26:41 NLV). Wat het Hy daarmee bedoel? Hy het bedoel dat hulle sonder die bemagtigende teenwoordigheid van die Heilige Gees, wat Hy pas gesê het hulle sal ontvang, nie opgewasse sou wees teen die uitdagings waar voor hulle binnekort te staan sou kom nie. Hy het nie hulle toewyding en gewilligheid om Hom te dien betwyfel nie; Hy het net geweet dat hulle dit nie alleen sou kon doen nie. Jy kan ook nie. Hoe gouer jy dus ophou probeer, hoe beter daaraan toe sal jy wees! God sal jou net seën wanneer jy jou totale afhanklikheid van Hom erken. Dit beteken dat jy moet bid en op Hom moet leun voor jy begin; en aanhou om te bid en op Hom te leun tot jy die wenstreep oorsteek. Dit beteken ook dat as God jou nie stuur nie en jy dring aan om te gaan, of Hy sê vir jou om iets te doen en jy probeer dit in jou eie krag bereik, jy verseker sal misluk. Wat meer is, is dat Hy jou sal toelaat om aan te hou misluk, totdat jy die plek bereik waar jy soos Paulus kan sê: ‘Nie dat ons op eie houtjie iets kan bedink asof dit ons eie breinkind is nie. Ons bekwaamheid kom van God, wat ons bekwaam gemaak het…’ Dis wanneer ons die einde van ons vermoëns bereik wanneer God se krag inskop. Die woord vir jou vandag is dus: In plaas daarvan om op jou eie krag en hulpbronne staat te maak, maak volkome en alleenlik op God staat.

Sielskos: Gen 4-6; Matt 17:14-27; Ps 40:9-17; Spr 6:6-8