Wy jouself aan God toe

2019-07-31
Josua 3:5 ABA

God het op die drumpel van die Beloofde land vir sy mense gesê: ‘Julle moet julleself wy, want die Here sal môre wonderwerke doen tussen julle.’ Wanneer jy jouself aan God toewy, sal Hy dinge wat jou sal verstom in jou, met jou en deur jou doen. Ons wil wonderbaarlike dinge vir God doen, en dit klink edel. Ons het dit egter verkeerd om. God wil wonderbaarlike dinge vir ons doen. Dis sy werk, nie ons s’n nie. Ons werk is toewyding. Toewyding verg egter meer as om net kerk toe te gaan, die Tien Gebooie te onderhou, ‘n tiende te gee, jou geloof te deel, vrywillige werk te doen, jou hande in lofprysing op te hef en op ‘n sendingsreis te gaan. Dis alles goeie dinge, maar dit is nie toewyding nie. Die gereedskap wat in die tempel gebruik is, is as ‘gewyd’ geag. Met ander woorde, hulle is eenkant vir God se eksklusiewe gebruik geplaas. Hulle is aan sy diens toegewy. Toewyding beteken die onttroning van jouself en die inwyding van Jesus as Here van jou lewe. Dis die volledige afsterwe van alle selfbelang. Dis die oorgawe van alles van jou aan Hom. Dis die eenvoudige erkenning dat elke sekonde van jou tyd, elke ons van jou energie en elke sent van jou geld ‘n gawe van God en vir God is. Toewyding is ‘n liefde vir Jesus wat aanhou verdiep, ‘n kinderlike vertroue in jou hemelse Vader, en ‘n blinde gehoorsaamheid aan die Heilige Gees. Die woord vir jou vandag is dus – wy jouself aan God toe.

Sielskos: Deut 22-24; Matt 13:24-35; Ps 78:56-64; Spr 16:33