Die seëning kom deur te ‘doen’

2019-07-24
Psalm 119:166 NLV

In sy boek, Traveling Hopefully, skryf Stan Mooneyham: ‘Ek sal gaan, wanneer… Ek sal gee, nadat… Ek sal gehoorsaam, maar eers… – ‘n mens sal altyd redes vind om uit te stel en soms sal dit selfs na geldige redes lyk. Ek en ‘n goeie vriend van my is min of meer op dieselfde tyd geroep om te preek en ons het saam universiteit toe gegaan. Gedurende daardie vier jaar van my studies was ek besig om in die plattelandse kerke van Oklahoma die preekkuns te vermink, maar my vriend het daarop aangedring om eers sy doktorsgraad te voltooi voordat hy die eerste keer sou preek. Dit was meer as dertig jaar gelede. Ek vermink steeds die preekkuns, maar my vriend preek glad nie. Hy het nooit. Voorbereiding is belangrik, maar om te doen is ‘n noodsaaklike deel van voorbereiding. Jy moet jou eerder self afvra: ‘As dit nie ek is nie, wie dan? As dit nie hier is nie, waar dan? As dit nie nou is nie, wanneer dan?’ Dis nie genoeg om te sê dat jy in God se Woord glo nie, jy moet dit ook gehoorsaam. Dis nie genoeg om Bybelse kennis te versamel nie, jy moet hierdie kennis wat God jou gegee het ook in jou daaglikse lewe toepas.’ Jakobus skryf: ‘Julle moet mense word wat dóén wat die woord sê. Moet dit nie net aanhoor nie, dan bedrieg julle julleself… As jy jou egter verdiep in God se volmaakte wet… en jy dóén wat die wet sê en jy vergeet nie wat jy gehoor het nie, dan kan jy God se seën verwag op wat jy doen’ (Jakobus 1:22, 25 NLV). Die seëning kom deur te ‘doen.’

Sielskos: Deut 3-4; Matt 12:1-14; Ps 46; Spr 16:20-22