Redes om dankbaar te wees
2019-07-221 Tessalonisense 5:18 NLV
Dankbaarheid kom nie natuurlik vir ons nie, maar ‘n gekla en gekerm wel. Niemand het meer rede gehad om te kla as Josef nie. Hy is verlaat, tot slaaf gemaak, verraai en vervreem. Dis die hoofopskrifte van sy vroeë lewensverhaal. Tog, wanneer hy daaroor praat, hoor jy nie ‘n sweempie van bitterheid nie. Jy hoor die teenoorgestelde. Hy het sy twee seuns lewende, lewenslange getuienisse van sy dankbaarheid teenoor God gemaak met die name wat hy aan hulle gegee het. “Josef het die oudste een Manasse genoem, want het hy gesê: ‘God het my al my kwellings laat vergeet, en ook alles wat my familie teen my gedoen het.’ Die tweede een het hy Efraim genoem, want het hy gesê: ‘God het my vrugbaar gemaak in die land van my swaarkry'” (Genesis 41:51-52 NLV). Let twee dinge op: Eerstens het Josef na die verlede gekyk en God gedank vir dit waardeur Hy hom gebring het. Jy moet dit ook doen. Of dit nou dinge is wat ander mense aan jou gedoen het of iets wat jy aan hulle gedoen het, God se genade het jou daardeur gebring. Daar is net een goeie rede om die verlede op te haal en dit is om te onthou hoe God jou daardeur gelei, beskerm en geseën het. Tweedens het Josef na die huidige tyd gekyk. ‘God het my vrugbaar gemaak in die land van my swaarkry.’ Kan jy ‘n tyd onthou wat jy nie geweet het of jy dit gaan maak nie? Toe ander mense ook gedink het dat jy dit nie gaan maak nie? Kyk wat het die Here in jou lewe gedoen! Ten spyte van struikelblokke en teenstand het Hy jou geseën en vir jou gesorg. Draai die kermkraantjie toe en maak die dankbaarheidskraantjie oop. ‘Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God van julle as Christene verwag.’
Sielskos: Hand 27-28; Matt 11:10-19; Ps 42:1-5; Spr 16:16