Hou aan hardloop. Hou jou oë op Jesus
2019-07-10Hebreërs 12:1-2 NLV
Glenn Cunningham is op ‘n plaas in Kansas gebore en het by ‘n skool met net een klaskamer skoolgegaan. Hy en sy broer was verantwoordelik om die skool se vuur aan die gang te hou. Een oggend toe die seuns keroseen oor die gloeiende kole gooi om die vuur voor skool aan die gang te kry, het die stoof ontplof. Glenn het na die deur toe gehardloop, maar toe besef dat sy broer geval het en nie beweeg nie. Hy het teruggegaan om sy broer te help en verskriklike brandwonde in die proses opgedoen. Sy broer het egter gesterf en Glenn is met ernstige brandwonde aan sy bene gehospitaliseer. Dit het gelyk of die tragedie ‘n einde aan sy droom om ‘n naelloper te word, gemaak het. Die dokters het gesê hy sou nie weer loop nie, maar deur sy determinasie het Glenn dit reggekry. Toe het hy begin hardloop. Hy het die myl bemeester. Uiteindelik het hy sy visier op die internasionale rekord van sy afstand gestel en dit verbeter! Wat het hom laat aanhou hardloop? Hy het gesê dat dit die gedagte aan sy broer was. Wanneer jy mismoedig voel en wil tou opgooi, dink aan Jesus: ‘Kom ons hardloop met volharding op die baan wat voor ons uitgestrek lê, ons oë vasgenael op Jesus, die Een op wie ons geloof vanaf die wegspring tot by die eindstreep steun. Hy het ter wille van die blydskap wat daar voor vir Hom gewag het, die kruis verduur. Ja, Hy het Hom selfs deur die skande van die kruisdood nie laat afskrik nie. En nou sit Hy op die ereplek langs God op die troon! Dink aan Hom wat soveel vyandigheid van sondaarmense deurstaan het. Laat dit julle inspireer om nie uit te sak en tou op te gooi nie’ (verse 1-3 NLV).
Sielskos: Hand 6-7; Matt 8:18-27; Ps 118:1-9; Spr 15:27-30