Vergeet en strek vorentoe
2019-07-05Filippense 3:13 NLV
Solank as wat jy aan jou verlede vashou, sal jy nooit die toekoms kan aangryp nie. Die verlede kan ‘n ondraaglike swaar las wees wanneer jy dit probeer dra. Die manier om dit te laat gaan, is om op te hou om daaraan te dink. Vee dit uit jou gedagtes en uit jou gesprekke uit. Satan sal jou aanhoudend aan jou verlede herinner, omdat hy wil hê dat jy daarin moet vasval. Jy hoef egter nie. Jy kan jou eie denke kies. Jy sê: ‘Ek kan nie help om daaraan te dink nie.’ Ja, jy kan! Voor hy vir Christus ontmoet het, het Paulus kerke vernietig en Christene doodgemaak. Nadat hy Christus ontmoet het, moes hy na daardie selfde dorpe toe teruggaan, en wie het daar vir hom gewag? Weduwees. Weeskinders. Mense wie se lewens hy verwoes het. As Paulus nie daarby verby kon beweeg het nie, sou hy nooit sy Godgegewe opdrag vervul het nie. Paulus het nie aan geheueverlies gely nie; hy kon die gebeure onthou. Hy het egter geweet dat God hom vergewe het en dat hy homself vergewe het. Hy het gekies om die verlede te vergeet. ‘…een ding is seker: ek vergeet dit wat agter my lê, en strek my uit na dit wat voorlê.’ Wanneer jy kies om te vergeet, sal God jou in staat stel om dit te doen en vir jou die genade en vrede gee om aan te beweeg. Hy sal jou inderwaarheid sterker en wyser as gevolg daarvan maak. As jy met skuld, veroordeling, skaamte, blaam of spyt oor jou verlede sukkel, laat God toe om jou te vergewe, jou vry te maak en jou in staat te stel om vorentoe te beweeg.
Sielskos: Jer 51-52; Matt 7:1-14; Ps 137; Spr 15:15-17