‘n Ontmoeting in die lug

2019-07-01
1 Tessalonisense 4:17 DB

Die Boodskap parafraseer Christus se wederkoms as volg: ‘Wanneer God beveel dat die laaste dag aanbreek, sal die heel belangrikste engel in die hemel skielik kliphard uitroep. God se hemelse trompet sal ook begin blaas. Terwyl dit gebeur, sal die Here na die aarde toe kom. Al die Christene wat reeds dood is, sal lewendig word. Dan sal ons wat nog lewe saam met hierdie gelowiges weggeneem word op die wolke. Ons almal sal die Here in die lug ontmoet. Daarna sal ons almal vir altyd by die Here bly. Vertel hierdie goeie nuus vir ander gelowiges en moedig mekaar aan om dit te glo’ (verse 16-18 DB). Die tweede koms van Christus sal deur die trompetgeskal van die aartsengel ingehuldig word. Begraafplase en die oseane sal hulle dooies teruggee. ‘…Hierdie keer sal Hy verskyn om almal wat gretig na sy koms uitsien, finaal te verlos’ (HebreĆ«rs 9:28 NLV). Hierdie gebeurtenis sal deur die hele mensdom aanskou word. ‘…Elke oog sal Hom sien…’ (Openbaring 1:7 NLV). Elkeen van ons sal hierdie oomblik aanskou, van Adam tot die babatjie wat met die aanvang van die trompetgeskal gebore word. Nie almal sal egter hierdie oomblik verwelkom nie. ‘…Wanneer dit gebeur, sal mense wat hulle nie aan God wou steur nie orals openlik in trane uitbars. Wanneer hulle die wonderlike glans en krag van die Seun sien, gaan hulle hartverskeurend huil…’ (Matteus 24:30 DB). Jy gaan nie per ongeluk hemel toe nie, jy kies om soontoe te gaan. God sal jou keuse eer. Diegene wat Christus as hulle Redder erken, sal opstaan om die grootste familiereünie van alle tye saam te vier. Gaan jy hemel toe? As jy nie seker is nie, moenie dat hierdie dag tot ‘n einde kom voor jy jou vertroue in Christus geplaas het en Hom as jou Here en Redder aanvaar het nie.

Sielskos: Jer 36:27-40:16; Matt 5:21-37; Ps 102:12-17; Spr 15:3