‘Goeie’ sukses

2019-06-22
Josua 1:8 NLV

Toe Josua die leier van Israel in die plek van Moses geword het, het God vir hom gesê: ‘Hou hierdie wetboek altyd by jou. Dink dag en nag daaroor na sodat jy alles kan doen wat daarin geskryf is. Jy sal dan sukses behaal op jou pad. Jy sal voorspoedig wees.’ Daar is twee tipes sukses: sukses wat God se wil vir jou lewe vervul; en sukses wat wêrelds is, wat jou leeg kan laat voel en wat sterf wanneer jy sterf. Boris Becker, die wêreldbekende tennisspeler, het volgens berigte selfdood oorweeg as gevolg van die leegheid wat hy in die lewe ervaar het. Selfs al het dit voorgekom asof hy suksesvol is, was sy lewe nie so wonderlik soos wat dit van buite af gelyk het nie. ‘Ek het twee keer Wimbledon gewen, een keer daarvan as die jongste speler,’ het hy gesê. ‘Ek was ryk. Ek het al die materiële besittings gehad wat ek nodig gehad het: geld, karre, vroue, alles… Ek weet dit is ‘n cliché. Dis die ou storie van film- en popsterre wat selfdood pleeg. Hulle het alles en tog is hulle so ongelukkig. Ek het geen innerlike vrede gehad nie. Ek was ‘n marionet.’ Iemand het gesê: ‘In alles wat mens sonder God aanpak, moet mens klaaglik misluk of meer klaaglik, sukses behaal.’ Hierdie stelling is waar, want sonder God eindig alle sukses in mislukking op [dit bevredig nie]. Jesus se definisie van ‘n dwaas was as volg: ‘Ja, ‘n mens is ‘n dwaas as jy net aardse rykdom versamel, maar nie ‘n ryk verhouding met God het nie’ (Lukas 12:21 NLV). ‘Goeie’ sukses is om God eerste te stel en Hom toe te laat om alles vir jou in plek te stel.

Sielskos: Jer 14-17; Mark 16:1-20; Ps 21; Spr 14:17-20