Leer om tevrede te wees

2019-06-19
1 Timoteus 6:6 NLV

Wanneer jy oor tevredenheid praat, dink sommige mense dat jy teen vooruitgang is. Nee. Paulus sê dat tevredenheid nooit uit eksterne bronne kom nie! Elke twaalf minute probeer adverteerders op die radio en televisie ons daarvan oortuig dat tevredenheid nie sonder hulle spesifieke produk moontlik is nie. Moenie dit glo nie! Die begeerte na meer kan onversadigbaar wees. So lank as wat jy glo dat meer beter is, sal jy nooit tevrede wees nie. Hoekom nie? Omdat jy nooit lank genoeg sal leef om dit alles te kry nie! Dink daaroor; wanneer jy iets kry of iets bereik, neem jy die tyd om dit te geniet of galop jy verder na die volgende ervaring toe sonder om te stop? Om te keer dat jy te vroeg oud en te laat wys word, lees die volgende Skrifgedeeltes: 1) ‘Alles in aanmerking geneem, het ons tog niks saamgebring toe ons in die wêreld gekom het nie, en ons sal ook nie enigiets saamneem wanneer ons sterf nie (vers 7 NLV). Wanneer jy sterf en mense vra: ‘Hoeveel het hy agtergelaat?’ sal die antwoord ‘Alles’ wees (insluitend ‘n nalatenskap van die goeie en die slegte). 2) ‘…En sommige mense wat geld begeer, het weggedwaal van die geloof en hulleself met baie ellende deurboor’ (vers 10 NLV). As jou najaging van materiële dinge geen tyd vir God laat nie, moet jy jou prioriteite ondersoek en hulle begin verander, terwyl jy nog kan. Hou op om te dink: ‘As ek net ‘n groter huis, ‘n eggenoot met meer begip, ‘n spesifieke werk, ‘n radikale mooimaaksessie, ‘n hoër IK of die aanvaarding van ‘n spesifieke persoon gehad het, sou ek gelukkig wees.’ Dit werk nie so nie. Die Bybel sê: ‘Dit is die dag wat die Here gemaak het. Laat ons daaroor juig en bly wees’ (Psalm 118:24 NLV).

Sielskos: Jer 4-6; Mark 15:1-20; Ps 144:9-15; Spr 14:5-8