Hoe groot is jou God?

2019-06-18
1 Samuel 17:47 NLV

Hoe jy die lewe hanteer hang af van hoe groot jy glo God is. As Hy te klein is: 1) Sal jy in konstante vrees lewe deur te dink dat alles van jou afhang. 2) Jou uitkyk sal deur jou omstandighede – of erger, kritici – bepaal word. 3) Sonder die aanvaarding van ‘n liefdevolle God sal jy ‘n slaaf van ander mense se opinies wees. 4) Jy sal die heeltyd na erkenning smag omdat jy nie verstaan dat ‘…jou Vader wat alle geheime ken, [jou sal] beloon’ (Matteus 6:4 NLV) nie. Toe Goliat die Israeliete gedreig het, ‘…was hulle mismoedig en baie bang’ (1 Samuel 17:11 NLV). Hulle het nie gedink dat hulle God groot genoeg vir die werk was nie. Nie Dawid nie! ‘Ons moenie oor hierdie man moedeloos word nie… Ek sal teen hierdie Filistyn gaan veg!.. Die Here wat my uit die kloue van die leeu en die beer gered het sal my ook red van hierdie Filistyn!..’ (1 Samuel 17:32, 37 NLV). Jy kan enigiets in die gesig staar wanneer jy, soos Dawid, weet dat die geveg die Here s’n is. Hy het nog nooit een verloor nie! Jy hoef dus nie op jou eie vermoëns staat te maak nie. Dawid mag dalk klein gevoel het, maar hy het geweet dat sy God groot genoeg vir die werk was. Weet jy dit ook? Die Anglikaanse predikant, John Newton, het in die agtiende eeu gesê: ‘As die Here by ons is, het ons geen rede om te vrees nie. Sy oog is op ons, sy arm is om ons, sy oor is oop vir ons gebed, sy genade is genoeg en sy beloftes is onveranderlik.’ Dit alles hang af van hoe groot jou God is!

Sielskos: Jer 1-3; Mark 14:66-72; Ps 144:1-8; Spr 14:1-4