Wees ‘n ‘opgewekte’ persoon
2019-06-17Efesiërs 2:6 NLV
Om ‘n ‘opgewekte’ persoon te word, moet jy hierdie drie dinge doen: 1) Brei jou idee van God uit. Hoe doen mens dit? Deur sy Woord te lees en Hom beter te leer ken. Wees soos die seuntjie wie se juffrou by die Sondagskool hom gevra het wat hy besig was om te teken. Hy het geantwoord: ‘Vir God!’ Die juffrou het gesê: ‘Maar niemand weet hoe God lyk nie.’ Vol selfvertroue het hy geantwoord: ‘Hulle sal wanneer my tekening klaar is!’ Hoe is jou God? Liefdevol of veroordelend? Ver of beskikbaar? Beperk of magtig? Jou idee van God sal jou vertroue in Hom bepaal, neem dus tyd om Hom te leer ken. 2) Herken Satan se beperkings. Die Duiwel is die wêreld se oudste verloorder, ‘n voormalige werknemer van die hemel wat as gevolg van arrogansie afgedank is en wat op pad na vernietiging is. Die enigste krag wat hy oor jou het, is die krag wat jy aan hom gee deur nie kennis van sy planne te neem nie (sien 2 Korintiërs 2:11). Die Bybel sê: ‘Wys dus dat julle van God afhanklik is deur na Hom te luister. Weerstaan die duiwel en hy sal van julle af wegvlug’ (Jakobus 4:7 NLV). Jy het mag oor Satan – gebruik dit. 3) Sien jouself soos God jou sien. Hy sien jou nie soos hoe jy is nie, maar soos hoe jy gaan wees. As jy deur ervarings in die verlede gekondisioneer is om jouself as waardeloos te sien, kan jy dadelik begin om jou selfbeeld te verander deur te glo wat God oor jou in sy Woord sê (lees Jeremia 29:11; Jesaja 43:1-4, Efesiërs 2:6). As jy aan hierdie drie dinge werk, sal jy ‘n ‘opgewekte’ persoon in ‘n ‘neerslagtige’ wêreld word.
Sielskos: Hosea 11-14; Mark 14:53-65; Ps 139:13-24; Spr 13:25