Hou aan om God te vertrou

2019-05-25
Filippense 1:6 NLV

Toe Mark Matousek vir mense vertel het dat ‘n potensiële dodelike siekte sy lewe gered het, kon hulle dit nie verstaan nie. Hy was nie bly dat hy siek geword het nie. Hy sou egter daarsonder nooit die krag ontdek en gebruik het om sommige van sy kernvrese te oorkom nie. Hy skryf: ‘Swaarkry kan die bloed in die spiere wees wat ons voortdryf. Krisis kan ons na die randjie toe neem en ons dwing om aan te hou beweeg. Wanneer mense dit ‘n seëning noem, beskryf hulle ‘n paradoks. Dis hoekom mans dikwels in oorlogstye floreer en vrouens deur kindergeboorte verander word – hulle word lewendig soos nog nooit tevore nie.’ Die waarheid is dat God tot jou geestelike groei verbind is: ‘Ek is oortuig dat God die goeie werk wat Hy in julle begin het, sal voortsit totdat Hy dit voltooi op die dag wanneer Jesus Christus terugkom.’ Langs die pad sal jy getoets word, soms tot breekpunt toe. ‘n Skrywer sê: ‘Geestelike toetse toets ons geloof en toewyding. Onthou jy vir Abraham en Isak? Niks maak ons trotser as wanneer ons ons kinders sien sukses behaal nie, en God het groot planne vir Isak gehad. Wat kon moontlik verkeerd gaan? Baie! Ons het al in Abraham se sandale gestaan en aan God se beloftes vasgeklou, maar steeds het siekte gebly, finansiële probleme het binnegesluip, vriende het ons verraai en die dood het gewink. Abraham het met vertroue en toewyding gereageer. Dit was nie maklik vir hom nie – ons weet hoe dit sou eindig, maar hy het nie! Tog was hy bereid om sy seun se lewe te neem. God wou nooit Isak se dood gehad het nie. Hy wil egter ons hele hart en toewyding hê.’

Sielskos: 1 Kon 18:16-20:43; Mark 9:38-50; Ps 113; Spr 12:15-17