Elkeen wat jy ontmoet, het potensiaal
2019-05-23Galasiërs 6:10 NLV
Het jy al gesien hoe ‘n trein na ‘n aangrensende treinspoor skuif om sodoende aan verskeie treinwaens te koppel, voordat hulle verder almal saam as een trein voortbeweeg? As jy mense wil help, moet jy op dieselfde spoor as hulle kom, met hulle skakel en hulle dan help om vorentoe te beweeg. Voordat jy dit kan doen, is daar egter twee reëls wat jy moet nakom: 1) Moet nooit iemand as vanselfsprekend aanvaar nie. Tip O’Neill, die voormalige voorsitter van die Amerikaanse Huis van Verteenwoordigers, het vertel dat een van sy bejaarde buurvroue tydens ‘n verkiesing vir hom gesê het: ‘Ek het weer vandag vir jou gestem, selfs al het jy nie vir my gevra om dit te doen nie.’ Verras het O’Neill geantwoord: ‘Maar ek ken jou al my hele lewe, me O’Brien. Ek het jou asblik uitgegooi en jou gras gesny – ek het nie gedink dat ek hoef te vra nie.’ In ‘n moederlike stemtoon het sy geantwoord: ‘Dis altyd lekker om gevra te word!’ 2) Glo dat almal potensiaal het. Moeder Teresa het gesê: ‘Ons hoef nie enigsins buitengewoon te wees nie. Ek kan doen wat jy nie kan doen nie, jy kan doen wat ek nie kan doen nie, en saam kan ons groot dinge doen.’ Jy mag dalk nie in staat wees om almal te help nie, maar jy kan iemand help. Die optrede waarvoor Andreas die bekendste in die Skrif is, is dat hy sy broer Petrus aan Jesus voorgestel het. Petrus het toe baie mense na Jesus toe gelei. In die Nuwe Jerusalem sal jy die name van die apostels bo die twaalf fondamente geskryf sien (sien Openbaring 21:14). Andreas se naam sal daar wees, omdat hy geglo het dat almal die potensiaal het om ‘n verskil te maak, wanneer hulle Jesus ken.
Sielskos: 1 Kon 14-15; Mark 9:14-29; Ps 101; Spr 12:12-13