Herstel beskadigde mense (4)

2019-05-13
Lukas 19:3 NLV

Die Bybel sê: ‘…Saggeus… was ‘n hooftollenaar en ‘n ryk man. Hy het sy bes probeer om te sien wie Jesus is… Hy het vooruit gehardloop… en in ‘n vyeboom geklim om Jesus te sien omdat Hy daar sou verbygaan’ (verse 2-4 NLV). Die verhaal van Saggeus leer ons dat ryk mense net so beskadig soos arm mense kan wees. Hoe sommige van hulle beskadig is, is in die verhaal van hoe hulle ryk geword het. Wanneer jy jou gewete skend, is dit moeilik om in jou eie vel te lewe. Wanneer jy jou kernwaardes vir geld verruil, kan jou sukses hol en jou skuld swaar wees. Saggeus het hiermee gesukkel: ‘…Here… as ek iets van iemand met ‘n slenter bekom het, gee ek dit vierdubbel terug’ (vers 8 NLV). As dit is hoe jy vandag voel, sê Jesus vir jou die drie dinge wat Hy vir Saggeus gesê het: 1) ‘Maak gou!’ Moenie jou redding ‘n dag langer uitstel nie. Op enige gegewe oomblik is jy so naby aan die ewigheid soos ‘n foutiewe hartklop of ‘n kwaadaardige sel. Moenie met jou siel dobbel nie; maak reg met God terwyl jy nog kan. 2) ‘Klim dadelik af.’ Word nederig. Kniel by die voete van die Een wat jou liefhet en wat sy lewe gegee het om jou te verlos. Dit maak nie saak hoe erg jy misluk het nie: ‘As ons egter ons sondes bely, is Hy betroubaar en regverdig om ons sondes te vergewe en ons skoon te maak van elke verkeerde optrede’ (1 Johannes 1:9 NLV). 3) ‘Want Ek moet vandag by jou kom oorbly’ (Lukas 19:5 DB). Weier om nog een dag sonder die versekering dat Christus in jou hart woon, jou treë rig en oor alles van jou waak, te leef.

Sielskos: Heb 5-8; Mark 6:30-44; Ps 18:30-50; Spr 11:22