Neem tyd om te reflekteer (2)

2019-04-23
Prediker 7:14 NLV

Die digitale era hou groot voordele vir ons in. Deur e-posse, sms’e en tweets kan ons vinnig kommunikeer. Die nadeel is dat dit nie binne in ons die begeerte om diep oor dinge te dink, aanmoedig nie. Jy kan nie persoonlike groei in die mikrogolf gaarmaak nie; jy het ‘n erdepot daarvoor nodig. Die Bybel sê: ‘Geniet die dag van voorspoed. Maar wanneer teëspoed kom, onthou, God gee die een sowel as die ander…’ Wanneer jy die tyd neem om te reflekteer: 1) Kry jy vertroue in jou vermoë om besluite te neem. Het jy al ooit ‘n vinnige besluit geneem en later gewonder of jy die regte ding gedoen het? Reflekterende denke kan jou help om daardie vertwyfeling te oorkom. Dit gee jou ook selfvertroue vir die volgende besluit. Sodra jy oor ‘n kwessie gereflekteer het, beteken dit dat jy nie elke stap van jou denkproses hoef te volg wanneer jy weer voor so ‘n besluit te staan kom nie. Jy het denkbeeldige merkers omdat jy reeds voorheen daar was. 2) Maak jy die groter prentjie duideliker. Reflekterende denke moedig ons aan om terug te gaan en weer oor dit wat ons gedoen en gesien het, te dink. Om jouself daarvan te weerhou om dieselfde fout oor en oor te maak, moet jy stop en die proses wat daartoe gelei het, ondersoek. Refleksie help jou dus om die groter prentjie te sien. 3) Neem jy ‘n goeie ervaring en maak dit ‘n nuttige ervaring. Hulle sê dat ons uit ervaring leer. Nee, ons leer uit geëvalueerde ervaring. ‘n Ervaring word nuttig wanneer dit ons toerus en kennis gee. Dis hoekom daaglikse gebed en Bybelstudie so noodsaaklik is. Jy sal dinge in God se teenwoordigheid verstaan wat jy op geen ander manier sal verstaan nie.

Sielskos: Matt 27:62-66; Mark 1:9-13; Ps 6; Deut 21:22-23