Die transformerende waarheid van Golgota (3)
2019-04-18Hebreërs 9:22 NLV
Derdens was Golgota noodsaaklik! Presies hoe noodsaaklik? So noodsaaklik soos lewe of dood, hoop of wanhoop, hemel of hel. Dis ons enigste manier om gered te word. ‘Daar is geen redding by iemand anders nie. Daar is geen ander naam op aarde wat mense kan aanroep om gered te word nie’ (Handelinge 4:12 NLV). Sonder Christus se dood, sou ons sondes ons vir ewig van God geskei het. As dit nie vir Jesus se dood was nie, sou ons aan die volle straf van God se wet onderworpe gewees het, skuldig aan elke sonde wat ons nog ooit gepleeg het en as veroordeelde sondaars, vir ewig verlore. Paulus skryf: ‘Ons weet dat die wet van toepassing is op almal wat onder die wet is. Daarom kan niemand van ons ons verweer nie en is die hele wêreld skuldig voor God’ (Romeine 3:19 NLV). Geen uitsonderings nie – die hele wêreld, insluitend jy, staan skuldig voor God se aangesig. Omdat Jesus egter aan elke vereiste van God se wet namens ons voldoen het, is ons vergewe en geregtig verklaar. Dis noodsaaklike inligting. Jy het net twee opsies wanneer dit by Jesus kom: aanvaar of verwerp Hom! Hy het gesê: ‘Elkeen wat glo en gedoop word, sal gered word. Maar elkeen wat nie glo nie, sal veroordeel word’ (Markus 16:16 NLV). ‘…wat moet ek dan met Jesus die ‘Messias’ doen?..’ (Matteus 27:22 NLV). Die antwoord is eenvoudig: Plaas jou vertroue in Hom en word gered.
Sielskos: Jak 3-5; Luk 23:13-25; Ps 7:10-17; Spr 10:17-18