Wraak is God se werk, nie joune nie
2019-03-25Romeine 12:19 DB
Wraak is God se werk, nie joune nie. Hy sal vergeld – of dit nou op die Oordeelsdag of in hierdie lewe is. Hy kan jou beledigende baas dissiplineer, ‘n woedende ouer laat versag, of jou eks tot op sy knieë of tot haar sinne bring. Vergifnis verminder nie geregtigheid nie; dit vertrou dit aan God toe. Hy waarborg die regte hoeveelheid vergelding. Ons gee te veel of te min, maar Hy het die presiese resep. Anders as ons, gee Hy ook nooit oor ‘n persoon op nie. (Iets waaroor jy baie bly behoort te wees). Dis God se werk om jou vyande reg te ruk. Dis jou werk om jou vyande te vergewe. ‘Moenie net regsit om ander mense in eie munt terug te betaal as hulle iets verkeerds aan julle gedoen het nie. Doen liewer goeie dinge sodat ander mense kan sien dat julle God dien. Doen van julle kant af alles in julle vermoë om in vrede met ander mense te leef. Laat staan al julle wraakplanne, my liewe broers en susters. Dit pas glad nie by gelowiges nie. Los sulke dinge vir God. Daar staan immers in die Bybel: ”Ek alleen het die reg om te straf; Ek sal wraak neem,’ sê die Here. ‘As jou vyand honger is, moet jy sorg dat hy iets te ete kry. As hy dors is, moet jy hom iets gee om te drink. As jy dit doen, sal jy hom verskriklik skaam maak.’ Moenie toelaat dat dit wat sleg is in jou lewe die oorhand kry nie…’ (verse 17-21 DB). Die skrywer Max Lucado sê: ‘Wraak bou ‘n lang, smal huis met net genoeg spasie vir een mens. Die lewe van die inwoner word op een doel gefokus: Maak iemand se lewe ellendig. Op die ou einde is dit egter net sy eie lewe wat hy ellendig maak.’
Sielskos: Job 40-42; Luk 19:37-44; Ps 69:1-18; Spr 8:27-29