Jy is spesiaal
2019-03-24Psalm 139:14 NLV
Sarah Hupp skryf: ‘Het jy geweet dat jy aan die begin ‘n enkele sel was en dat daar in daardie sel genoeg DNA was om 1,000 volumes gekodeerde bloudrukke te bevat? Of dat die DNA in daardie een selletjie die kleur van jou hare en oë, die vorm van jou neus en die grootte van jou ringvinger bepaal het? Het jy geweet dat niemand anders jou vingerafdrukke, jou sprankelende oë of jou manier van lag het of dieselfde as jy na dinge kyk nie? Jy is oorspronklik en dit het nie per ongeluk gebeur nie. God het jou DNA ontwerp. Hy het jou gemaak soos Hy jou wou gehad het. Hy het vir jou jou stem, jou glimlag, jou sproete, jou krulhare en al die dinge wat jou jou maak, gegee. Omdat God jou gemaak het, is jy vir Hom en ander mense spesiaal. Die wêreld sou sonder jou nie volledig gewees het nie.’ Geen wonder die Psalmdigter het gesê: ‘Ek loof U omdat U my so besonder wonderlik gemaak het. U werke is wonderbaar, ek weet dit alte goed!’ Miskien dink jy, ‘Ja, maar jy weet nie met watse beperkings ek elke dag saamleef nie.’ Pastoor Jim Penner sê: ‘Ek het al met baie mense wat met fisiese kwessies soos siektes, diabetes, kanker, gewigsprobleme, spier en outo-immuun siektes sukkel, gepraat en saam met hulle gebid. Die beperkings waarmee die mensdom op ‘n daaglikse basis stoei is eindeloos. Tog sê Efesiërs 2:10: ‘God het ons gemaak wat ons nou is. Dit is Hy wat ons nuut gemaak het omdat ons Christus Jesus s’n is’ (DB). God het presies geweet wat Hy doen toe Hy jou gemaak het. Jy is uniek in hierdie wêreld. Dit maak jou spesiaal.’
Sielskos: Lev 27:30-33; Num 31:48-54; 1 Kor 16:1-3; 2 Kor 9:1-15